• Create an account
    *
    *
    *
    *
    *
    Fields marked with an asterisk (*) are required.
01-swartland-technical-sercvices-air-con-banner-01

Hoërskool Swartland 15 Jan 2010

hoerskool-swartland
HIERDIE NUUSBRIEF VERSKYN WEEKLIKS.  VRA DUS U KIND ELKE VRYDAG DAARVOOR OM KOMMUNIKASIE TUSSEN SKOOL EN HUIS TE VERGEMAKLIK.

1.   Uit die hoof se kantoor

Aan die begin van hierdie nuwe skooljaar wil ek alle Rockies, personeel en ouers baie sterkte en voorspoed vir 2010 toewens.  Mag dit ‘n besondere jaar vir ons skool wees!

‘n Spesiale woord van verwelkoming aan alle nuwe leerders en hulle ouers. Ons vertrou dat u baie vinnig u voete gaan vind en onmiddellik by die program van die skool betrokke gaan raak.

Personeel :  ‘n Woord van welkom aan mnr en mev Dreyer.  Mnr Dreyer is hoof van die Wiskunde Departement en mev Dreyer sal verskeie vakke onderrig.

Akademie :  Dit was sopas die tweede eksamen wat onder die nuwe sisteem geskryf is en leerders en onderwysers was baie onseker wat om te verwag.  Nogtans het ons ‘n 95,5% slaagsyfer gehad in 2009.  Daar is baie geskryf oor die standaard en moeilikheidsgraad van verskeie vraestelle wat geskryf is.  Die volgende leerders het A gemiddeldes behaal :  (alfabeties) Lucinda Burger, Ione de Vos, Shirné Grobler, Manya Neethling, Dorette Strydom, Mercia Taylor, Damian Thomas, Louw Truter, Somien Truter, Danny van Zyl, Anene Visser en Cora Wasserman.  Baie geluk aan Manya, ons toppresteerder!  Manya en Dorette het 7 A-simbole behaal!

Daar was 81 A vak simbole in verskeie vakke behaal.  Veels geluk aan die leerders wat onder die omstandighede baie goed presteer het.  Ek wil ouers vra om die skool te ondersteun deur toe te sien dat u kinders gereeld :  Tuiswerk doen;  Take betyds inhandig;  Gereeld skool bywoon

Stiptelikheid :  Ons wil vra dat ouers ons sal ondersteun deur toe te sien dat u kind betyds by die skool opdaag.  Leerders wat laatkom, sal op detensie geplaas word.

Afwesigheid en uitteken gedurende die skooldag:  Sommige van ons graad 12 leerders wat gedruip het, het ‘n probleem gehad met skoolbywoning en die eindresultaat was ‘n onsuksesvolle graad 12 jaar!  Dit kon egter voorkom gewees het deur gereeld klasse by te woon.  Daar gaan hierdie jaar baie streng opgetree word teen leerders wat sonder verlof van die skool af wegbly.  As ‘n leerder ‘n tydperk van drie dae aaneen afwesig gaan wees, vra ons dat u die skool sal kontak en ons in kennis stel van die omstandighede.

Indien ‘n leerder vir langer as drie dae afwesig is, of ‘n tendens van afwesigheid steek sy kop uit, gaan die departement se Maatskaplike werker u by die huis kom besoek om ondersoek in te stel.

Akademiese tyd is baie belangrik en ons ondervind dat daar baie ouers is wat doktersafsprake gedurende skooltyd maak en sodoende verloor die leerder waardevolle onderrigtyd.  Baie leerders rapporteer ook reeds vroeg in die dag siek, en dit nadat hulle die oggend niks makeer het nie.  Slegs ek as skoolhoof en mnr Brand as adjunkhoof gaan in die toekoms leerders toestemming gee om gedurende die skooldag uit te teken.

Selfoonbeleid : Leerders mag nie gedurende die skooldag selfone in hul besit hê nie.  Hulle mag aan die begin van die skooldag hul selfone by die sekretaresse inhandig vir veilige bewaring om weer aan die einde van die dag afgehaal te word.  Indien ‘n leerder met ‘n selfoon betrap word, sal sodanige leerder sy ouers skakel om die selfoon by die skool te kom haal.  Die kind sal eers kan terugkeer klas toe sodra die selfoon aan sy ouers oorhandig is.

Kleredrag :  Ons vra om verskoning vir die gebrek aan skoolbaadjies.  Die verskaffer het ons van swart baadjies voorsien.  Die korrekte baadjies behoort egter teen einde Februarie hier te wees.

Ek het verlede jaar ‘n skrywe uitgestuur en ouers gewaarsku om nie gedurende die vakansie bruin skoene of insteekskoene aan te koop nie.  Ten spyte hiervan, het daar steeds leerders met verkeerde skoene by die skool opgedaag.  Seuns moet swart, veterskoene (toerygskoene) dra.  Daar moet ook nie gespes of enige ander versiering op die skoen wees nie.  Dogters moet ook swart skoene dra, met ‘n gespe en bandjie oor die voet.

Seuns behoort gordels te dra om te verhoed dat hemde slordig uithang.  Seuns moet ook grys sokkies dra en nie wit sokkies nie.  Ons vra dat ouers ons ondersteun om ‘n trots op ons skooluniform te vestig.

Rookbeleid :  Daar gaan baie streng opgetree word teen leerders wat op die skoolgronde rook.  Ek gaan ouers persoonlik kontak en die leerders sal dienooreenkomstig gestraf word.  Ons wil ouers aanmoedig om toe te sien dat kind liefs nie die nare gewoonte aanleer nie.

Sportdeelname :  Een van die leemtes by die skool is die groot getal leerders wat onaktief is.  Ek wil leerders aanmoedig om betrokke te raak by die buitemuurse program van die skool.  Daar is baie geleenthede tot deelname en leerders moet daarvan gebruik maak.

OOV :  Van ons ouers samel fondse in deur middel van verkope by sportbyeenkomste by die skool.  Ons doen ‘n beroep op ons ouers om hul hulp aan te bied by die OOV sodat ons die fondse wat ge-in word tot voordeel van ons leerders kan aanwend.

Verbruikerstudie :  Die beheerliggaam het die Verbruikerstudieklaskamers opgeknap en die ou naaldwerkklas is omskep in ‘n klas waar kookkuns aangeleer sal word.  Ons benodig ses stowe vir die lokaal.  U sit dalk met ‘n stoof by u huis wat u nie gebruik nie.  Kontak ons gerus indien u van so iets bewus is – ons sal dit baie nuttig kan aanwend.

Krieketklubhuis :  Ten einde ons krieketklubhuis funksioneel te maak, benodig ons ook kisvrieskaste of yskaste.  Baie dankie dat u geduldig is met ons deurdat ons ons behoeftes deur middel van hierdie briefie aan u bekend maak sodat u kan weet waar u ons van hulp kan wees.

Al u bydraes, samewerking en ondersteuning in bogenoemde aspekte sal baie waardeer word.

DJ MARAIS

SKOOLHOOF  

2.  Atletiekafrigtingskliniek

Ons jaarlikse atletiekafrigtingskliniek vind plaas op Saterdag 16 Januarie by HSS se sportgronde en wel vanaf 08:30 tot 13:30.  Registrasie vind plaas vanaf 08:00 tot 08:45.  Die afrigting word deur uitgesoekte afrigters hanteer en is oop vir alle leerders van graad 4 tot 12.  Atlete wat aan velditems deelneem moet asseblief onthou om hul eie apparaat saam te bring.  Die koste is R50 per atleet of afrigter.  Verversings sal by die Snoepie te koop aangebied word.

3. Voorligting

Vakveranderinge : Alle vakveranderinge vir gr 10 en 11 moet teen 28 Februarie gefinaliseer wees.  Vakveranderinge vir graad 12 word slegs in uitsonderlike gevalle toegelaat en die sluitingsdatum is 25 Januarie.  Enige navrae hieroor kan by juffrou Greeff by die skool gerig word.

4. Skoolfonds en ander gelde betaalbaar

Die beheerliggaam het besluit om diegene wat nog nie verlede jaar se skoolfonds ten volle vereffen het nie, aan die prokureurs te oorhandig vir verdere invordering.  Dit beteken dat die skool nie 2009 se skoolfonds in 2010 mag ontvang nie.  Sulke gevalle moet direk aan die prokureurs rapporteer.  Dit is dus belangrik dat u vroegtydig begin om u kind se skoolfonds te betaal, want ons kan nie kwaliteit onderrig verskaf indien daar nie voldoende fondse beskikbaar is nie.  Moet liefs nie agterstallig raak met betalings nie, want dan raak die las al swaarder.

SKOOLFONDS VIR 2010

R 6 400,00 eenmalig per jaar  OF

R 640 x 10 maande

Indien u per kwartaal wil betaal, moet die R1600 binne twee weke van die kwartaal betaal word.

Hoërskool Swartland

ABSA Malmesbury  Tak 334-307

Rekeningnommer 0380 390124

Verwysing : Leerder se naam of rekeningnommer as u dit het.

Ander gelde betaalbaar :

Boeke :

Gr 8 en 9 Lewensoriëntering aantekeninge – R30 per leerder betaalbaar by registeronderwysers.

Gr 8 tot 11 Voorgeskrewe – R40 per taal betaalbaar by registeronderwysers.

Gr 12 departementele handboeke – R350 in kontant by registeronderwysers.  Indien die leerder al sy boeke aan die einde van die jaar in ‘n bevredigende toestand aan die skool terugbesorg, word R300 hiervan weer aan die leerder terugbetaal.

Matrieks :

Matriektop – R200 by registeronderwysers

Matriekbalkie – R30 by registeronderwysers

Matriekafskeid – Van 2010 af betaal matrieks R200 per leerder wat die matriekafskeid bywoon en die buiteskiete R400 per persoon.  Ons matrieks kan dus solank begin geld spaar vir hierdie grootse geleentheid!

5. Grosvenor oorlewingskamp

Gedurende die Desembervakansie het Hannes Bester, Hannes Myburgh, Wilhelm Nell, Francois Opperman en Charles Weyers die jaarlikse oorlewingskamp vanaf Wildernis tot Hartenbos meegemaak.  Hulle het geleer om met die absolute minimum kos, klere, slaap- (slegs seile en toue) en ander geriewe klaar te kom en het van voor af geleer om dankbaar te wees vir al die seëninge wat ons daagliks ontvang.  Hulle het ook agtergekom dat hulle eintlik meer wilskrag en deursettingsvermoë het as wat hulle gedink het!  Met die beperkte voedsel soos byvoorbeeld ‘n ui vir die dag, het party van hulle 5,7kg ligter teruggekom.  Op ‘n ander dag was daar darem ‘n aartappel vir die dag.  Ma se koffie en beskuit en heerlike gekookte kos was ‘n absolute fees met die terugkoms.  Ons is trots op hierdie leerders wat Hoërskool Swartland se naam as ‘n span hoog gehou het, maar wat ook as individue in karakter gegroei het.  Die lewenslesse en verdieping in hul geestelike lewens wat hulle daar ondervind het, is van onskatbare waarde!

WEEKPROGRAM

Maandag 18 Januarie (Dag 2)

Klippie konsert om 18:00

Dinsdag 19 Januarie (Dag 3)

OLOK bestuur vergader om 19:00

Interkleure swemgala

Woensdag 20 Januarie (Dag 4)

-

Donderdag 21 Januarie (Dag 5)

Atletiek Interkleure

Swem te Somerset College

Vrydag 22 Januarie

Atletiek Interkleure

Uitnaweek

Saterdag 23 Januarie

Uitnaweek

Toutrek te West Cliff

Krieket streekwedstryde

Maandag 25 Januarie (Dag 6)

Graad 8 Baadjieseremonie om 19:00

You are here: News Schools Hoërskool Swartland 15 Jan 2010