• Create an account
    *
    *
    *
    *
    *
    Fields marked with an asterisk (*) are required.
01-swartland-technical-sercvices-air-con-banner-01

Hoërskool Swartland 11 Des 09

hoerskool-swartland

Namens ons skoolhoof, personeel en beheerliggaam, wens ons u elkeen ‘n baie geseënde Kerstyd toe met baie vreugde en kwaliteittyd saam met u gesinne.  Mag u  hierdie komende Christusfees werklik die liefde en warmte van Jesus se nabyheid ervaar.

Geniet u vakansie en as u op die pad gaan, ry asseblief veilig!

SIMPATIE

Ons as personeel, ouer- en leerderkorps is op hierdie stadium geruk deur die skielike heengaan van Jason en Kosie.  Ons opregte simpatie en medelye gaan uit na die Sabbagha en Steenkamp families en ons wil hulle verseker van ons volgehoue gebede.

Kosie se roudiens vind plaas op Maandag 14 Desember om 11:00 vanuit die NG Swartland Moederkerk.

Jason se roudiens vind plaas op Woensdag 16 Desember om 11:00 vanuit die NG Swartland-Noord kerk.

PERSONALIA

Dit is ongelukkig weer tyd om van ‘n personeellid afskeid te neem.  Mev Lize Meyer het met haar pragtige gesindheid ingestaan by die Wiskunde Departement en ons spreek graag ons opregte dank teenoor haar uit.  Sy het onmiddellik ingeskakel en haar werk met groot erns en toegewydheid verrig. 

Die volgende nuwe aanstellings is reeds, ten tye van hierdie skrywe, goedgekeur:

Mnr Herman Dreyer  : Wiskunde

Mev Lize Dreyer : Lewensoriëntering, Afrikaans, Sosiale wetenskappe

Mev Gerda du Plessis : Departementele aanstelling

Mev Betsie Jordaan : Afrikaans graad 8 - 12

Aan elkeen van my personeel, baie dankie vir elkeen se insette, positiwiteit en diensbaarheid die afgelope jaar. Geniet u welverdiende vakansie saam met u dierbares.

2009 MATRIEKUITSLAE

Die uitslae van die graad 12’s sal op 7 Januarie 2010 vanaf 12:00 by die skool beskikbaar wees.

Die uitslae kan óf persoonlik afgehaal word óf telefonies by 022-482 1469 verkry word.

PRESTASIES

Soos wat u seker in die koerante gelees het, is ons baie trots op Christiaan du Plessis en Philanie du Toit.  Christiaan is as Boland se Sportman van die jaar vir sy swemprestasies aangewys en Philanie as Boland Sportvrou van die jaar vir haar skaakprestasies.  Baie geluk aan hierdie twee leerders.

Ons het ook verneem dat Juanita Barkhuizen, Graeme Cupido en Jaco Wiese volwaardige dromspelers is!  Hulle het die kursus voltooi en sertifikate ontvang.  Baie geluk met jul besondere prestasies!

GROSVENOR OORLEWINGSKAMP

Die volgende graad 11 seuns gaan van 11– 19 Desember die oorlewingskamp vanaf Wildernis tot Hartenbos aanpak : Hannes Bester, Hannes Myburgh, Wilhelm Nell, Francois Opperman en Charles Weyers.  Baie sterkte aan hierdie Rockies!  Ons sien uit na jul terugvoering.

ATLETIEKAFRIGTINGSKLINIEK

HSS bied weereens ‘n afrigtingskliniek aan op Saterdag 16 Januarie 2010 vanaf 08:30 tot 13:30 by HSS se sportgronde.  Die afrigting word deur uitgesoekte afrigters hanteer en is oop vir alle leerders van graad 4 tot 12.  Die koste is R50 per atleet of afrigter.  Registrasie vind vanaf 08:00 plaas.  Verversings sal by die Snoepie te koop aangebied word.

KLEREBANK

Die klerebank sal, met die aanvang van 2010, op die volgende dae en tye oop wees :

Maandag 11 Januarie : 09:00 – 14:00

Dinsdag 12 Januarie : 09:00 – 14:00

Daarna is die klerebank oop op Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 09:00 tot 14:00.

HANDBOEKE VIR 2010

Nuwe boeke :

Soos alreeds in ‘n vorige skrywe aan u bekend gemaak, word die nuwe handboeke vir 2010 op Do. 14 Januarie vanaf 09:00 - 15:00 vanuit die OLOK-saal verkoop.  Neem asseblief nou al kennis dat tjeks by hierdie verkoping aan “Books 24/7” uitgemaak moet word.  Elke leerder het reeds ‘n boekelys ontvang van die boeke wat benodig word.

Engels voorgeskrewe boeke :

Betalings vir Engelse voorgeskrewe boeke (gr 8,9 en 10) kan nog gedurende die eerste week van die eerste kwartaal in 2010 gedoen word. Leerders wat nie betaal het nie, sal ongelukkig nie boeke of notas kan ontvang nie.

Lewensoriëntering :

Graad 8 en 9 leerders van 2010 word daarop gewys dat hulle vir lewensoriëntering ‘n bedrag van R30 moet betaal vir notas in plaas van ‘n handboek.

AKADEMIE

Ons wil graag ons leerders (en hul ouers) wie goed presteer het hierdie jaar van harte gelukwens met hul puik prestasies.  Ongelukkig is daar diegene wat nie die paal gehaal het nie.  Vir hulle wil ons vra om nie moed op te gee nie, maar aan te hou probeer en positief te bly.  Onthou, aanhouer wen!

Promosiepunt op rapport : Ouers moet daarop let dat die promosiepunt op u kind se rapport nie bloot die gemiddeld van die 4 onderskeie kwartale is nie, maar dat daar sekere formules gebruik word om die promosiepunt uit te werk.  Vir navrae hieroor kan u die skool skakel in die nuwe jaar. Ons sal u met graagte verder inlig.

HERWINNING

Ons wil ons herwinningsprojek weereens onder u aandag bring, want ons wil soveel as moontlik mense van ons gemeenskap betrek.  U kan nou lekker u huis skoonmaak hierdie vakansie en solank alle papier bymekaarkry vir herwinning.  Dankie vir u bydraes tot op hede.  Ons is volstoom aan die gang met ons projek!

FINANSIES

Ons moet beklemtoon dat alle uitstaande skoolfonds, koshuislosies en busgeld alreeds teen 30 November 2009 vereffen moes wees.  Baie dankie aan elkeen wat positief reageer het en saamgewerk het om die betalings betyds te doen.  Fondse wat uitstaande is, sal binnekort aan die prokureur oorhandig word vir invordering.  Let wel – as dit gebeur, sal u ook aanspreeklik wees vir die prokureurskostes wat gehef sal word.

Ouers van koshuisleerders moet kennis neem van die volgende reëling ten opsigte van betalings : Gelde is VOORUITBETAALBAAR.  U kan die volle bedrag van die kwartaal gedurende die eerste twee weke van die kwartaal betaal; of u kan ‘n aftrekorder by u bank teken vir ‘n gereelde aftrekking.  Ouers wat nie by enigeen van hierdie twee reëlings hou nie, se kinders sal ongelukkig nie meer tot die koshuis toegelaat kan word nie.

MY SCHOOL

‘n Fondsinsamelingsprojek sonder enige werk! Onthou asseblief om u My School kaartjie tydens die vakansie te gebruik by die volgende besighede :  Woolworths, Waltons, Supa Quick, Engen Quickshop, Kalahari.net boekklub, Bargain Books (Paarl Mall), Viljoen Juweliers Paarl, Frans Juweliers Paarl, Spectacle warehouse Paarl.  U toon bloot die kaartjie met aankope, HSS kry ‘n gedeelte wins van elke transaksie  – sonder enige moeite.  Aansoekvorms vir nuwe kaarte is by Woolworths betaalpunte beskikbaar. 

OPREGTE DANK

Huis van Imhoff wil graag dankie sê vir elkeen wat tot op hede gordyne of geld geskenk het.  Daar was selfs dames wat aangebied het om te help stik.  Dit is vir ons wonderlik om die samewerking en ondersteuning van ons ouers en ondersteuners  op hierdie wyse te ervaar.

Ons wil graag nog ‘n dankie rig aan elkeen wat ‘n geldjie geskenk het vir die Burger Kersfonds.  Devonne Pharaoh, ons hoofseun vir 2010 gaan besoek aflê by die Burger strandhuis en ons weet sommer hy gaan Hoërskool Swartland se naam hoog hou!

SKOOLKWARTALE VIR 2010

KWARTAAL

HEROPEN

SLUIT

EERSTE

13 JANUARIE

 

26 MAART

TWEEDE

12 APRIL

9 JUNIE

DERDE

13 JULIE

23 SEPTEMBER

VIERDE

4 OKTOBER

10 DESEMBER

 

Die skool begin op Woensdag, 13 Januarie om 07:15.  Leerders moet in somersdrag, met skoolbaadjies, geklee wees.

You are here: News Schools Hoërskool Swartland 11 Des 09