VERHOUDING MET GOD (1)
VRAAG
Hoe kan ek ‘n verhouding met God bou?
ANTWOORD
Daar is nie sprake van ‘n verhouding met die Here sonder ’n voorafgaande bekering of wedergeboorte nie. Dis die vertrekpunt of die fondasie vir ‘n verhouding met God. Vele vandag meen deur bloot net Bybelstudie te doen (sonder bekering) kan hulle ‘n verhouding met God hê.
So het ons almal al vir mnr. Nelson Mandela vele male op TV gesien of foto’s van hom en artikels van hom in tydskrifte gelees. Ons sien dat hy hou van loshangende veelkleurige hemde en dat hy hom nie veel steur aan die tradisionele en formele wyse van aantrek in S.A. nie, selfs terwyl hy nog president van die land was nie. Ons herken sy stem oombliklik as hy oor die radio of TV praat. Maar het ons ‘n verhouding met hom? Nee! Met al ons kennis en inligting oor hom, bly hy tog maar vir elkeen van ons ‘n vreemdeling.
Wat nodig is; ek en jy moet hom persoonlik ontmoet. Ons moet aan hom voorgestel word en sy hand skud. En dan moet ons gereeld met hom kommunikeer, sodat die verhouding verder uitgebou kan word.
HENOG
Lees net hierdie wonderlik woorde oor die lewe van Henog in Gen. 5:22 – “En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God gewandel.” Die Good News Bible se vertaling: “After that, Enoch lived in fellowship with God for 300 years.” Dis darem net Goddelik en wonderlik en ‘n droom om te begeer!
Jy sien, Henog moes reeds baie vroeg in sy lewe die Lewende God ontmoet het en sy hele hart en lewe vir Hom oopgemaak het. Verder moes Henog God se teenwoordigheid opgesoek het en sy hele lewensbestaan was ingestel op Hom. Henog moes God ingelaat het in elke aspek van sy lewe.
GEBED
Om met U te wandel bly my grootste droom.
Net soos Henog van ouds, rein en vroom.
Die wêreld is so sleg,
Kom gou en neem my weg,
Want my hart verlang na U troon
U is so wonderskoon!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272
VERHOUDING MET GOD (2)
Gen. 5:22 – “En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God gewandel.”
Wie ken jou die beste van alle mense? As jy getroud is, verseker jou lewensmaat. En die rede? Julle deel alles saam en doen alles saam.
Ek en vroutjie is in 1978 getroud en ons deel alles saam:
- Ons werk saam;
- Ons ontspan saam;
- Ons eet saam;
- Ons lag saam;
- Ons huil ook van tyd tot tyd saam;
- En ons bid saam ens.
Nadat ‘n mens ‘n paar sakke sout saam opgeëet is, ken jy regtig jou lewensmaat. Dikwels weet my vrou al wat ek wil hê, voordat ek dit vra of weet sy al wat ek gaan sê, nog voordat ek dit gesê het. Dit het al gebeur dat sy sê: “Toe jy daar staan, toe weet ek wat jy dink.” Jy sien, ons leef in die intiemste verhouding saam en deel alles saam.
GEESTELIKE TOEPASSING
So is ‘n verhouding met God net moontlik as ek en jy doen wat Spr. 3:6 sê: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”
Daar moet nie ‘n area van my en jou lewe wees, waarin ons die Here wil uitsluit nie. Maar elke treetjie wat ek en jy wil gee; daarin moet ons die Here ken. Koning Josefat is hierin vir ons ‘n voorbeeld. Voordat hy op versoek van Agab in ‘n oorlog sou optrek, lees ons in 1 Kon. 22:5 - “Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die woord van die HERE.”
As kind van God neem jy nie ‘n besluit waarin jy nie eers die Here geraadpleeg het deur Sy Woord en in gebed nie. Jy beweeg nie alvorens jy nie die sagte vrede van die Heilige Gees se goedkeuring in jou binneste ervaar het nie.
Ons verhouding met die Here staan ook nie los van ons verhouding met God se mense, die gemeente nie. Die Here praat, bou en werk ook deur Sy gemeente in ons lewens. Gemeente beteken: God se mense wat soos ‘n hegte gesin, familie en weermag saam in eenheid beweeg. Vir die Bybel bestaan daar nie so iets soos ‘n losloper Christen nie.
GEBED
Lieflike Jesus, my verhouding met U is so belangrik vir my. Ek wil U in elke faset van my lewe ken en inlaat. Amen!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272
VERHOUDING MET GOD (3)
Gen. 5:22 – “En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God gewandel.”
Dr. Lemmer du Plessis vertel my dat hy by twee geleenthede homself vasgeloop het in mnr. Nelson Mandela. Spontaan het mnr. Mandela sy hand na dr. Lemmer uitgesteek en homself voorgestel en gegroet. Maar nooit het daar ‘n verhouding ontwikkel nie. Die rede; daar was geen verdere kontak nie.
Dikwels word mense aan Jesus voorgestel; hulle bid ‘n oorgawe gebed, maar daar is ongelukkig dan geen verdere kontak met die Here nie. Daardie selfde mense soek nie die Here op nie. Hulle bid nie, lees nie die Bybel nie, gaan nie eens kerk of selgroep toe nie en breek nie met hulle sonde nie. Dis soos ‘n dooie geboorte. Daar was ‘n geboorte, maar ‘n dooie een – die kind is dood gebore.
Sulke dinge kan ook in die geestelike lewe gebeur. Mense maak oorgawes aan die Here of mense bekeer hulle, maar hulle is soos die straatprediker gesê het: “Hulle is ‘gebekeer’ maar ook geparkeer!” Morsdood staan hulle op een plek met geen verdere groei of ontwikkeling en geestelike vooruitgang nie. En daarom kan niemand hom daarop beroem dat hy of sy jare gelede iewers by ‘n spesiale diens sy of haar hand opgesteek het en ‘n oorgawe gebed gebid het, en ongekwalifiseerd aanvaar alles is sommer reg nie. As daar nie vanuit daardie oorgawe ‘n spontane verhouding met die Here ontwikkel het nie dan moet ‘n mens dit betwyfel of wedergeboorte ooit ingewerk het. Want as dit ingewerk het, sal dit ook uitwerk ijn die praktyk. Johannes die Doper het vir die Fariseërs gesê (Mat 3:8): “Dra dan vrugte wat by die bekering pas.” Daar deur sê Johannes die Doper eintlik: “Daar het nog niks in julle harte gebeur nie en daarom dra julle geen vrugte wat by die bekering pas nie en kan ek julle nie doop nie.”
Dit is elke keer net verstommend om te sien; as daar lewe is, is daar ook groei. Hoe dikwels sien ons nie in die natuur ‘n saadjie wat op die onmoontlikste plek ontkiem en groei. Daar is ‘n grassaadjie wat onder die kerk se parkeer area se harde oppervlak opgekom het en dit groei jou waarlik daar en lig selfs die teer op!
Wanneer egte wedergeboorte plaasgevind het, het ek gesien hoedat mense onder die haglikste huislike omstandighede soos daardie grassie op die kerk se parkeer area in verhouding met God groei en ontwikkel. Niks stuit of keer hulle nie. Hulle styg uit bo hulle omstandighede en is soos Fil. 2:15 sê: “Kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld.”
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



