• Create an account
    *
    *
    *
    *
    *
    Fields marked with an asterisk (*) are required.
01-swartland-technical-sercvices-air-con-banner-01

Vas en Gebed

02-god-van-baie-kanse

VAS EN GEBED (1)
VRAAG:
Kan jy my asb. bietjie meer vertel oor vas. Wat sê die Bybel oor vas en moet ons nog vandag vas?
ANTWOORD:

Vas is beslis nog deel van die Nuwe Testament. Jesus veronderstel dat Sy volgelinge sal vas. Kyk ons na Mat. 6 dan sien ons dat Jesus noem sekere standaard praktyke vir die kind van God:
  • Mat. 6:2 – “Wanneer jy dan liefdadigheid bewys,” dan sus en so ...
  • Mat. 6:5 – “En wanneer jy bid,” dan sus en so ...
  • Mat. 6:16 – “En wanneer julle vas,” ...

Daar het jy dit: Liefdadigheid bewys, bid en vas in dieselfde asem. As jy dus voel dat vas is uitgedien, dan moet jy ook die ander twee nl. liefdadigheid en gebed beskou as nie meer van toepassing nie.

As Jesus dit nodig geag het om te vas (Mat. 4:2) dan is dit ook nodig vir my en jou.

Vas is nie terwille van God in gestel nie, maar ter wille van ons. Ons het dit nodig.

Omdat die Bruidegom nie meer by ons is nie, verwag Jesus dat ons van tyd tot tyd sal vas. Mat. 9:15 – “En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.”

Die vroeë kerk van Handelinge het gereeld gevas.

  • Hand. 13:2 - “En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas …” 
  • Hand. 13:3 – “En toe hulle gevas en gebid het …”

Daar is talle voorbeelde in beide die Ou en die Nuwe Testament wat duidelik toon dat vas ‘n normale gebruik van gelowiges was.

Ook toe ek as jongeling in die AGS kerk gekom het, het die ouer pastore dikwels van vas gepraat en dit ook gepraktiseer. Dis tog asof dit vandag so bietjie minder geword het. Mag die Here ons weer opwek om die dinge te doen wat Bybels is met die gepaardgaande resultate.

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

 

VAS EN GEBED (2)

VIER SOORTE VAS

Bonatuurlike Vas

Moses het 40 dae sonder kos en water direk in God se teenwoordigheid gevas toe hy die twee kliptafels ontvang het. Die verhaal is bekend hoedat hy toe die tafels aan die voet van die berg verbrysel het weens die Israeliete se ontrou teenoor God. Toe is hy direk daarna weer teen die berg op om ander kliptafels te bekom en het weer sonder kos en water gevas direk in God se teenwoordigheid.

  • Deut. 9:9 – “Toe ek op die berg geklim het om die kliptafels te ontvang, die tafels van die verbond wat die HERE met julle gesluit het, het ek veertig dae en veertig nagte lank op die berg gebly—brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie.”
  • Deut.  9:18 – “Daarop het ek voor die aangesig van die HERE neergeval, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank—brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie.”

M.a.w. Moses het 80 dae gevas sonder kos en water! Daarom dat ons dit noem bonatuurlike vas. Geen wonder dat sy aangesig so geblink het dat die Israeliete nie hulle oë op hom kon vestig nie (Exod. 34:30; 2 Kor.3:13). Dit is slegs moontlik direk in God se teenwoordigheid, deur die werking van die Heilige Gees. Ek en jy moenie dit vir die snaaksheid probeer op ons eie sonder die Here se bonatuurlike werkinge en instemming nie.

Abnormale / Buite Gewone Vas

Ek noem dit abnormaal, want normaal weg moet ‘n mens water drink (baie) wanneer jy vas. Maar tydens hierdie gevalle in die Bybel was dit onder krisis omstandighede.

  • Ester en die Joodse volk het so gevas toe die voortbestaan van hulle as nasie bedreig is (Ester 4:16).
  • Esra die priester het so gevas toe hy diep bedroef was oor die ontrou van die Jode (Esra 10:6).
  • Die Nineviete het so gevas toe hulle die boodskap hoor dat hulle binne 40 dae uitgewis sou word (Jona 3:7).
  • In Hand. 9:9 het ons ook ‘n abnormale vas waar Paulus vir drie dae nie kon sien nie.

Ek is bewus van mense wat hierdie soort vas doen wanneer daar ‘n groot krisis hulle bedreig. Ek het nog net een keer in my lewe so gevas. Ek persoonlik verkies om baie water te drink wanneer ek vas, want dit reinig die liggaam en is baie meer gesond. Maar ons het hierdie voorbeeld van vas in die Bybel en dit dien as ‘n sleutel om baie deure vir jou oop te sluit en jou hart voor God te verootmoedig.

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

 

VAS EN GEBED (3)

VIER SOORTE VAS (vervolg)

Gewone / Normale Vas

In hierdie geval sluit jy alle kos uit en jy drink net water. Soveel water as moontlik, sodat dit die liggaam kan reinig. Ek poog om elke uur ‘n glas of beker water te drink en wanneer ek dit doen, doen ek dit biddend met die volgende woorde op my lippe: “Here, water simboliseer U Woord en die Heilige Gees. Soos hierdie water nou my liggaam vul, vul so my lewe met U Woord en U Gees.”

Gedeeltelike Vas

‘n Mens kan vooraf besluit dat jy gaan sekere voedsel tog gebruik, weens die omstandighede van daardie dag wat jy moet vas. Dikwels kan mense weens hulle liggaamlike toestand nie ‘n normale vas handhaaf nie en dan sal hulle bv. koffie of tee drink op die dag wanneer hulle vas.

Of mense sal op ‘n lang vas gaan wat oor ‘n aantal dae strek en dan sal hulle deur die dag vas, maar in die aand ‘n bordkos eet. So het ek die merkwaardige getuienis gehoor van J.D. Sumner wat aan God ‘n belofte gemaak het om te vas vir sy seun Donnie wat destyds saam met Elvis Presley opgetree het. Hy sou slegs en maal op ‘n dag eet totdat sy seun gered is. En so het hy vir 9 jaar ‘n gedeeltelike vas vir sy seun gehad totdat hy gered is.

DIE GROOT GEESTELIKES IN DIE BYBEL HET GEVAS

  • Moses het 40 + 40 dae gevas.
  • Elia het 40 dae gevas.
  • Daniël 21 dae en hy word genoem “geliefde man” (Dan. 9:23).
  • Dawid het 7 dae gevas (2 Sam. 12:18-22) Ps. 109:24 – “My knieë knik van vas, en my vlees het maer geword, sonder vet.” Hy word genome, ‘n man na God se hart.
  • Nehemia, Ester (3 dae sonder kos en water) en Mordegai het gevas.
  • Jesus het 40 dae gevas. Ons lees van Hom na Sy doop  Luk. 4:1 - “En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af.” Máár na die 40 dae se vas lees osn in Luk. 4:14 – “En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het ‘n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan;”
  • Paulus het 14 dae gevas op die skip na Rome (Hand. 27:33).
  • Ander bekendes soos Martin Luther, John Knox, John Wesley en Charles Finney het almal gevas met groot vrug op hul bediening.

As hulle kon, kan ek en jy ook.

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

 

VAS EN GEBED (4)

DIE WAARDE VAN VAS EN GEBED

1.  DIE STERKSTE WAPEN

Vas saam met gebed (as aktiwiteit van die mens se kant gesien) is die sterkste wapen wat God aan Sy kinders toegesê het. Mat. 17:21 – “Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.”

Die eerste maal wat ek drie dae gevas het en ek voor die gemeente staan, was dit asof die mense voor my deurskynend was. Dit het gevoel ek kyk dwarsdeur hulle.

Godsmanne soos AA Allen en Oral Roberts se deurbrake het gekom nadat hulle vir ‘n lang tyd gevas het. ‘n Tyd gelede het ‘n senior pastoor van Kenneth en Gloria Kopeland gesê: “Dis die geseëndste huwelikspaar met grootste invloed in die wêreld vandag en hulle vas gereeld elke week.” In die gemeente waar ek bevoorreg is om te bedien, is vas vir ons nog ‘n prioriteit.

Mense is nie regtig my en jou voorbeeld nie – Jesus is. Maar ons kan kennis neem en tog baie by ander leer

2. VAS VERDRYF ONGELOOF PLUS BOSE GEESTE

Die dissipels vra vir Jesus, nadat hulle onmagtig was om ’n demoon uit ‘n maansieke seun te dryf, maar Jesus dit sommer so maklik gedoen het:

Mat. 17:19 – “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?”

Mat. 17:20 – “En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Mat. 17:21 – “Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.”

Het jy geweet dis moontlik om geloof plus ongeloof tegelyk te hê? Die dissipels moes beslis geloof gehad het, want Rom. 10:17 sê tog dat geloof kom deur die aanhoor van die Woord Van God. En hulle het Jesus, die Woord, by hulle gehad en Hom gereeld hoor praat en preek.

Maar terselfdertyd was daar ook ongeloof. Ongeloof is ‘n mag. Dit bring twyfel en vrees en dit is geloof in trurat – dit kanselleer en verlam jou geloof. Dikwels het mense geloof en volgens Jesus het ons net ‘n klein bietjie geloof nodig (so groot soos ‘n mosterdsaad) om groot dinge te doen, maar die mag van ongeloof, neutraliseer ons geloof. Dis soos die man wat gekla het (Mark. 9:24): “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!”

Maar vas, verdryf die ongeloof en ons kan demone beveel en hulle gaan!

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

 

VAS EN GEBED (5)

DIE WAARDE VAN VAS EN GEBED

3.  VAS BRING OPENBARINGE EN ERVARINGE

Van my grootste openbaringe het ek gekry terwyl ek in vasting en afsondering was. Elke keer wanneer Daniël openbaringe ontvang het, was hy besig om te vas.

  • Dan. 9:21 – “terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël … na my gekom.”
  • Dan 10:2 - “In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur.”

Dan 10:3 – “Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was.”

  • In vers 9 hoor hy die stem van die engel en val bewusteloos op die grond. 
  • Dan. 10:10 – “En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan.”

Wat ‘n ervaring vir Daniël en die openbaring oor die eindtyd wat sou volg ...

4. VAS VERSEKER DAT JY DIE STEM VAN DIE HERE HOOR

In Hand. 13 lees ons van die plaaslike gemeente se leierskap wat saam gekom en gevas het.

  • Hand. 13:2 – “En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.”

Baie kerke glo nie in vas en beskou dit as uitgedien en wat hoort tot die Joodse geloof en slegs van toepassing is onder die Ou Testament. Gevolglik hoor hulle dikwels nie die Here nie en word baie besluite geneem in die vlees en slegs met die verstand.

5. VERLEEN GROTER (EKSTRA) KRAG AAN JOU GEBED

Vas werk soos die magarm van ‘n hefboom en verleen groter krag aan jou eie krag. Met ‘n hefboom verskuif jy rotse wat jy normaalweg nie met jou eie krag kan verskuif nie.

Vas bring by jou die gevoel van gebrokenheid wat jou hart sag maak voor die Here. Jou gees word sensitief vir die Heilige Gees. Jy voel soveel meer afhanklik van die Here, want jou liggaam is swak en ‘n mens besef: As die Here my nie help nie, kan ek dit nie maak nie.

Die honger tydens vas herinner jou om te bid. Dit bring die vlees in onderworpenheid.

Ek persoonlik meen dat daar is geen substituut vir vas nie.

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

 

VAS EN GEBED (6)

DIE WAARDE VAN VAS EN GEBED

6. VAS VERANDER DIE LOOP VAN ‘N HOPELOSE SAAK

Jona begin sy prediking in Nineve (Jon. 3:4): “Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes.”

Maar Jon. 3:5 herskryf die geskiedenis van ‘n groot stad: “En die manne van Ninevé ht God geglo en ‘n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee.” Tot selfs die diere moes vas ...!?

Jon. 3:5 – “Toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie.”

Paulus die geroepe apostel van Jesus Christus bevind hom as ‘n gevangene op ‘n boot in die Middelandse See op pad na Rome. Daar steek ‘n hewige storm op sodat dit lyk, hulle en die boot sal vergaan. Paulus spreek die bemanning op die boot toe (Hand. 27:10): “Manne, ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewe.” Die duidelike boodskap: Hulle gaan almal omkom in die boot ramp. 

Máár terwyl die storm woed, vas en bid hulle vir 14 dae! En die geskiedenis word herskryf!  ‘n Engel verskyn aan Paulus en deel hom mee:

Hand. 27:24 – “God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar.”

Hand. 27:34 – “Daarom raai ek julle aan om voedsel te neem, want dit dien tot julle behoud; want van niemand onder julle sal ‘n haar van sy hoof val nie.”

7. VAS BRING BONATUURLIKE RESULTATE

Jonathan Edwards het die beroemde preek gepreek: Sinners In The Hands Of An Angry God (1741). Sy preek het hy basies afgelees, geskryf in ‘n klein boekie wat hy naby sy gesig gehou het. Hy het net aangehou en aangehou totdat die oorvol kerk diep getref was.

Een persoon het vorentoe gestorm en uitgeroep: “Mr Edwards have mercy!” Ander het die rugstuk van die banke vasgegryp om te keer dat hul nie wegdryf nie. Nog ander het die pilare vasgegryp omdat hulle gevoel het die dag van oordeel het oor hulle gekom. Daar word gesê dat die krag van daardie preek word vandag nog steeds in Amerika (Enfield Connecticut) gevoel.

Maar daar is ‘n stukkie geskiedenis wat agter die skerms afgespel het. Vir 3 dae het Edwards nie geëet nie maar gevas. Hy het in afsondering na die Here geroep en oor en oor gebid: Give met New England! Give met New England!”

SLOT

Waarom tevrede wees met tweede beste? God gee my en jou ‘n sleutel tot persoonlik oorwinning, genesing, die gawes van die Gees en die redding van siele – dink aan jou familie!

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: News Church Vas en Gebed