SY LEWE AFGELÊ
Van die baie dapper verhale uit ons volk se geskiedenis, bly die verhaal van Racheltjie de Beer die een wat enige mens se hartsnare roer. Ek het ook al onder gemaklike omstandighede gesê dat ek my lewe vir ander sal aflê as dit nodig is, maar voorwaar vir wat sy gedoen het, weet ek nie so mooi nie ...
In die koue en sneeu moes hulle seker hulle koers verloor en verdwaal het. Die boetie het begin koud kry en later moeg en styf geword. Later het hulle by ‘n miershoop uitgekom en Racheltjie het die miershoop begin uithol. Sy het hom daarin gesit. Hy het egter nog steeds koud gekry en toe het sy begin om haar kleertjies uit te trek dit vir hom aan te trek. Sy moes daarmee aangehou het deur die loop van die nag totdat sy al haar klere vir haar boetie aangetrek het.
Die volgende oggend het die soekgeselskap op hulle afgekom. Racheltjie was verkluim met net haar skoentjies aan, terwyl die boetie nog gelewe het.
JESUS
Die Bybel leer vir ons dat Jesus het dieselfde vir ons gedoen.
Fil. 2:6 – “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,”
Fil. 2:7 – “maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;”
Fil. 2:8 – “en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”
“Homself ontledig” wil sê, Jesus het soos Racheltjie alles uitgetrek. Jesus het al Sy heerlikheid uitgetrek wat Hy in die hemel gehad het en aarde toe gekom. Hier het Hy nog verder ontslae geraak van sy menswaardigheid en die plek van ‘n misdadiger ingeneem toe Hy gekruisig is. Hy het nog verder uitgetrek en Sy lewe neergelê en gesterf sodat ons kan lewe!
Hoe onbeskryflik Sy liefde volgens die beskrywing van 2 Kor. 8:9 – “Alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het (sy lewe afgelê), sodat julle deur sy armoede ryk kan word (die lewe kan ontvang).”
Geen regdenkende mens kan so ‘n aanbod laat glip nie! Jy is mos ‘n regdenkende mens ...?
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



