SY GOEDERTIERENHEID IS TOT IN EWIGHEID
Terwyl die dinge hier op aarde ver van volmaaktheid is, is daar darem ook regtig ‘n paar dinge wat baie aangenaam is. Net jammer dit is so van korte duur.
- Wat kan dan nou lekkerder wees in die winter as ‘n vuurwarm stort? Ek sou ure daar wou staan, maar gedagtig aan die water wat wegloop en die kragrekening, en ESKOM wat so sukkel, maak dat alles teen hoogste spoed moet geskied.
- Kan enige normale man genoeg kry aan ‘n rugkrap deur vroulief? Dis net altyd te kort.
Ja, so lyk ál die aardse dinge: Net tydelik, kort van duur, van verbygaande aard.
DIE HERE SE DINGE
Maar die Here se dinge is tot in ewigheid! Ps. 136 het 26 verse en elke vers sluit af met: “want Sy goedertierenheid is tot in ewigheid.”
Klaag. 3:22 – “Sy barmhartighede het geen einde nie;”
Ps. 102:28 – “Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.”
Luk. 1:33 – “en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”
Heb. 1:12 – “maar U is dieselfde, en U jare het geen einde nie.”
1 Pet. 1:25 – “die Woord van die Here bly tot in ewigheid.”
Nadat daar oor die kos gebid is by ‘n buitelug ete en ons heerlik geëet het, is daar heelwat later ook nagereg bedien. Toe vra een van die jongmanne: “Oom, is die gebed van vroeër nou al uitgewerk of moet ons weer bid? (Ai die jongmense darem!)
Sy genade en liefderike goedheid hou net nooit op nie. Die krag en die effek van Golgota se offer kan nie uitgeput òf opraak òf uitgewerk raak nie. Dit hou aan en aan ... vir elkeen wat toetree. Al sou die Here nog hoe lank talm om te kom, Sy genade en vryspraak in Christus bly van krag en beskikbaar!.
Ps. 52:3 – “Die goedertierenheid van God duur die hele dag!” Dit hou nie op in die middel van die dag asof dit uitgewerk is nie. Tap en skep en geniet so veel soos jy wil vandag – dis verniet ruimskoots vir jou aangebied!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



