• Create an account
    *
    *
    *
    *
    *
    Fields marked with an asterisk (*) are required.
01-swartland-technical-sercvices-air-con-banner-01

Seksuele verslawing en die Woord

02-god-van-baie-kanse

SEKSUELE VERSLAWING EN DIE WOORD (2)

PORNOGRAFIE

Die Kernwoordeboek Van Afrikaans beskryf dit as die “uitbeelding van obsene dinge met die doel om te prikkel.” Pornografie beteken “slegte geskrif.”  Dis sleg vir enige mens om na te kyk:

  • Dit besoedel jou denke.
  • Dis verslawend.
  • Dit roep na meer en meer en dit wat gister genoeg was, is vandag nie meer goed genoeg nie en net soos met verdowingsmiddels moet daar elke keer meer gebruik word om weer dieselfde “kick” te kry as tydens die vorige sessie.
  • Daar is verdowingsmiddels wat jy net één keer hoef te gebruik en jy is “vas.” Met pornografie is dit nét so - één kyk, en jy’s gebind.
  • Dis soos met sonde; die oomblik toe Adam en Eva van die verbode vrug geëet het, het hulle ewe skielik ontdek, dit het hulle verander.

Gen. 3:7 – “Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

Gen. 3:8 – “En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin.”

Gen. 3:9 – “Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?”

Gen. 3:10 – “En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.”

  • Jy voel die afstand tussen jou en God. Die oomblik toe die eerste mensepaar sonde gedoen het, het daar afstand tussen hulle en God en afstand tussen hulle as mensepaar gekom. Daar is niemand wat kan sê as hy of sy sonde doen dat dit niks aan hom of haar doen nie. Net so is daar niemand wat kan sê as hy of sy na pornografie kyk, dit maak niks aan hom of haar nie.
  • Jy voel vuil, skuldig en besoedel.
  • Jy verloor jou vrymoedigheid. Ek beleef dikwels hoedat jongmense my nie in die oë kan kyk nie en dan is dit asof ek ervaar dat die Heilige Gees my daarop attent maak; hierdie persone voel ongemaklik omdat hulle hulself met pornografie besoedel.
1 Thess. 5:22 – “Onthou julle van elke vorm van kwaad.”

 

Liewe Leser

Ek het verskeie skrywes ontvang oor die nuwe reeks en mense het leesstof aanbeveel vir persone wat soek na bevryding van pornografie. Hier is ‘n webtuiste waar ‘n kursus deurloop kan word, sou u belangstel: www.settingcaptivesfree.com Ek het self so vinnig daardeur gekyk en dit lyk reg en gesond.

 

SEKSUELE VERSLAWING EN DIE WOORD (3)

1 Thess. 5:21 – “Beproef alle dinge; behou die goeie.“

Jare gelede terwyl ek ‘n weermag kursus gedoen het, toe ek nog self ongered was, kan ek onthou hoedat ek geluister het na ‘n gesprek tussen die manne in dieselfde kamer wat min of meer soos volg verloop het:

Jongman: “Die Bybel sê: Beproef alle dinge en behou die goeie. So, sien julle ouens, daar is niks mee verkeerd om seks te hê met ‘n meisie voor die huwelik nie. Die Bybel beveel dit dan aan. ‘n Mens moet eksperimenteer en dan kan jy beter keuses maak, wie jou vrou eendag sal wees.”

‘n Ander jongman: “Jy’s heeltemal reg. Dis sommer net die klomp preutse oumense wat geen plesier vir ons jongmense gun nie, wat ons wil belet.”

DIE VOLLE KONTEKS VAN DIE WOORD

Dis darem net vreeslik hoedat mense die Skrif kan verdraai om hulle te pas! Kyk ‘n mens na die volle konteks van hierdie gedeelte, dan sien jy dat hierdie gedeelte het niks met die seksuele te doen nie. Daarom moet ‘n mens na ‘n versie kyk in die volle konteks daarvan . M.a.w. lees die hele gedeelte deur en kyk veral wat staan vóór die spesifieke vers en wat kom ná dit. So kan ‘n mens voorkom dat jy ‘n verkeerde uitleg buite die konteks maak.

Kom ons kyk na die vorige vers, d.w.s. vers 20

1 Thess. 5:20 – “Verag die profesieë nie.”

Dus, dit gaan oor profesieë. Kyk nou weer na vers 21 en kom ons lees dit in ‘n paar vertaings:

  • Amplified: “Test and prove all things” M.a.w. ál die profesieë moet sonder uitsondering getoets word of dit Bybels korrek is.
  • Living Bible: “But test everything that is said to be sure it is true, and if it is, then accept it.” M.a.w. as dit (die profesie) Bybels korrek is, aanvaar dit. 

As die manne van die destydse weermag kursus, en so ook alle jongmense vandag net na die vorige en selfs ook die daarop volgende versies sal lees, sal hulle nooit tot die gevolgtrekking kan kom dat seks voor die huwelik is geregverdig nie.

En wat sê die daarop volgende vers? 1 Thess. 5:22 – “Onthou julle van elke vorm van kwaad.” Lees hiermee saam:

Spr. 4:14 – “Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie.”

Spr. 4:15 – “Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby;”

D.w.s. nooit nie, nie eens vir die eerste keer nie!

 

SEKSUELE VERSLAWING EN DIE WOORD (4)

DIE WOORD

Kom laat ons na die Bybel gaan en presies kyk wat daar staan. Hoe moet ons as kinders van God lewe en hoe moet ons nie doen nie.

Efe. 5:1 – “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;”

Efe. 5:2 – “en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.”

Kommentaar: Positiewe verse oor hoe ‘n kind van God moet leef. Ons moet leef as mense wat die Here volg met die Here Jesus as ons voorbeeld.

Efe. 5:3 – “Maar hoerery en allerhande onreinheid ... moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam;”

Kommentaar: As God se kinders moet ons nie eens praat oor al die seksuele onreinheid en besoedeling van ons dag nie. Wat te sê om nog daarna te kyk as pornografie of om so aan te trek (en nou praat ek veral met die vroulike geslag) dat jy ‘n verleiding vir ander is.

Efe. 5:5 – “Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine ... wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.”

Kommentaar: In geen onduidelike taal: Sulkes gaan nie hemel toe nie.

Efe. 5:25 - “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê,”

Kommentaar: Dis asof party mans hierdie vers as volg lees: “Manne julle moet vroue lief  hê (met verkeerde motiewe).” Dis asof hulle “julle eie” daar uithaal as mens na hul lewenstyl kyk.

HEILIGE DINGE

Die seksuele is heilige dinge wat God gemaak het vir ‘n man en ‘n vrou in die huwelik. En elke paartjie wat gelukkig getroud is, sal kan getuig dat dit kosbaar en wonderlik is en daar is om in die Here te geniet. Maar buite die huweliksverband is dit sonde en verkeerd voor God.

Met al die seksuele blootstelling op TV loop jongmens gevaar dat dit kan gebeur waarvan ons lees in Hoog. 2:7 en 8:4 – “Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, ... om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.” Dit moet “in plek gehou word” tot ‘n pasgetroude paartjie se eerste huweliksnag.

As jy as ongetroude voel jy word deur jou seksuele drange oorheers (1 Kor. 6:12c) en dit is te vroeg wakker gemaak, vra dan die Here in gebed om dit weer sluimerend te maak vir jou toekomstige huwelik.

 

SEKSUELE VERSLAWING EN DIE WOORD (5)

Ons gaan weer kyk na ’n paar teksverse en dan telkemale daarop kommentaar lewer.

DIE WOORD

1 Thess. 4:3 – “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery;”

Kommentaar: As jy ooit gewonder het wat is die wil van God vir jou lewe. Hier is dit; “heiligmaking.” Heiligmaking beteken om jou af te sonder van die wêreld se styl en heilig vir God te lewe.

1 Thess. 4:4 – “dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer,”

1 Thess. 4:5 – “nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie;”

Kommentaar: Dikwels vra mense my: Waar lees ons in die Bybel dat saambly voor die huwelik is verkeerd? “Hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene” spreek van die styl van die wêreld. Dit leef in seksuele wellus saam voor die huwelik en steur hulle nie aan God se eise. Maar God se Woord eis dat ons anders as die wêreld sal lewe.

1 Thess. 4:6 – “... die Here ’n wreker is oor al hierdie dinge,”

Kommentaar: Die woordjie “wrekertref my. Mense mag dink hulle kan maar doen wat hulle wil en God se wette breek soos dit hulle pas, asof dit niks sal maak aan hulle latere geluk nie. Maar iewers voorkant toe dan maai hulle wat hulle gesaai het ... (Gal. 6:7)

1 Thess. 4:7 – “Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.”

1 Thess. 4:8 – “Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.”

Kommentaar: Vuur onder beheer, is iets wonderlik en bekoorlik. Ons gebruik dit om vleis te braai, water te kook en mens maak die lieflikste kaggelvuur. Maar hoe lyk vuur wat nie onder beheer is nie? Ek het gesien hoedat vuur in die veld deur wind gedryf, hoër as ’n huis word en deur die veld hardloop, vinniger as wat ’n mens voor dit kan uithardloop en alles voor dit uit vernietig!

Die seksuele drange wat onder beheer en wat op die regte tyd en regte plek aangewend word, is ’n kosbare emosie wat God gemaak het, maar wanneer dit buite beheer raak, verwoes en ruïneer dit lewens!

GEBED

Help ons Here om nie te speel met die vuur van die seksuele nie, maar dit altyd te beskou as iets kosbaar en heilig wat deur God gegee is vir die huwelik. Amen.

 

SEKSUELE VERSLAWING EN DIE WOORD (6)

DIE WOORD

1 Kor. 6:10 – “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”

Kommentaar: Ons gaan spesifiek praat oor die drie woorde wat verwant is aan die onderwerp onder bespreking nl. hoereerders, wellustelinge en sodomiete. Hierdie is mense wat deur hulle seksuele luste gedryf en oorheers word terwyl 1 Kor. 6:12 sê: “... ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.”

Die woord sodomie kom van die naam van die stad Sodom. Dis die berugte plek waar Lot later gaan woon het. Die sonde van die plek was so groot dat God van plan was om die stad te verwoes. Die spesifieke aand het twee engele in die stad aangekom en Lot wat in die poort van die stad gesit het, het hulle genooi om die nag by hom aan huis oor te slaap (Gen. 19:1-3). Hulle was op die punt om te gaan slaap (Gen. 19:4): “Toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam.” (Let op hoe die Skrif klem lê op die feit dat ál die manne van Sodom was betrokke – só korrup was die stad!)

En wat wou hulle doen? Die manne van die stad het na Lot geroep en gesê (vers 5): “Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.”

Good News Bible: The men of Sodom wanted to have sex with them.”

Living Bible: “… so we can rape them.”

Die uiteinde: Sodom is met vuur en swawel verwoes (Gen 19:24).

Toe kom die wet van Moses en in Let 20:13 word die voorskrif gegee hoe wou God hê dat daar met sulkes gehandel moet word: “En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word.”

Hoor weer die uitsprake van die Nuwe Testament: Geen hoereerders ... of wellustelinge of sodomiete ... sal die koninkryk van God beërwe nie.”

Maar hier is die goeie en wonderlike nuus (1 Kor. 6:11): “En dit was (m.a.w. hulle is dit nie meer nie) sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”

Die Bybel sê twee dinge baie duidelik:

1.  Hoereerders en sodomiete (praktiserendes) sal nie hemel toe gaan nie.

2.  Daar is volle en totale verlossing vir sodomiete en vir alle ander seksuele verslaafdes wat na die Here Jesus toe kom vir verlossing! Iets wat bely is en waarmee gebreek is, beteken dat God dink daar nooit weer aan nie (Heb. 8:12; 10:17).

Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: News Church Seksuele verslawing en die Woord