POLITOER JOU SIEL
Mark. 8:36 – “Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?”
Wat die mens darem nie alles sal doen om homself aan die buitekant te verbeter en te verfraai nie!
Dan is daar die program, The Biggest Loser. Sowat van insit om te verslank en die oortollige gewig af te skud! Dis ‘n strenge verminderde dieet, ekstreme oefening doen, draf en gewigte dra en sleep en gedril word deur ‘n instrukteur tot die dood toe.
Dis tog Bybels om jou liggaam te stel as ‘n “lewende, heilige en aan God welgevallige offer” (Rom.12:1). Maar ek wens net altyd dat mense ook so baie sal insit om hulle innerlike mens vir God mooi te maak - die siel en die gees van die mens wat onsterflik is. Daardie selfde liggaam waaraan nou soveel aandag en sorg spandeer word, is oor ’n klompie jare in die graf en in die kis. En in die kis is daar dan net beendere en stof oor. Maar die siel en die gees? Vir ‘n ewigheid gaan dit nog bestaan en dis òf hel toe òf hemel toe met hom.
Ek onthou die woorde van Carina Engelbrecht van Vredendal wat so dikwels gesê het dat haar hoof taak is, om haar siel te “pollies.“
In die Bybel lees ons ook van ‘n man wat vergeet het om sy siel te politoer. In Luk. 12:16-21 lees ons van die ryk man wat ‘n baie groot oes die jaar gemaak het en al waaraan hy kon dink was aan die oes en hy het in sy kop net loop en planne teken van ‘n groter skuur. Die siel was vergete – die onsterflike deel wat plek vir Jesus moes maak. Net die oes en plek in ‘n groter skuur, is aan gedink. Luk. 12:20 – “Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?”
GEBED
Here Jesus, vergewe my dat ek so stoflik en wêrelds geöriënteerd is. Neem my hart as u woonplek. Kom vestig daar U troon. Amen!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



