• Create an account
    *
    *
    *
    *
    *
    Fields marked with an asterisk (*) are required.
01-swartland-technical-sercvices-air-con-banner-01

Hy gee krag...

02-god-van-baie-kanse

HY GEE KRAG OM DIE ONMOONTLIKE TE VERMAG

(Hoop dit vrolik jou dag op – ‘n mens moet ook vir jouself kan lag.)

In ‘n vorige gemeente was dit ons gebruik om aan die einde van die jaar tydens die Desembervakansie, dan ook sommer die nodige aankope vir die kerkkantoor te doen. Maar toe kom ‘n broer met ‘n beter plan by die laaste Kerkraadsvergadering: “Pastoor, dis darem nie reg dat jy in jou vakansie ook nog moet werk nie. Ek sal vir pastoor volgende jaar afneem Kaap toe as die nuwe jaar so pas begin het en dinge nog stil is, vir die nodige aankope. Maar op voorwaarde, pastoor moet saam met my die Cobra gaan ry by Ratanga Junction.”

Nou wat weet ek nou van al die “Kaapse goed” en sonder om uit te vra, sê ek dienswillig: “Ja, natuurlik my broer, dit sal ‘n plesier wees!”

So gebeur dit dan toe ook, nadat ons al die aankope afgehandel het, dat ons aanland by Ratanga Junction. Ons begin eers daar by al die “mak goedjies.” Maar vir my is dit iets verskriklik. Ons ry op ‘n treintjie al in die rondte maar dit voel asof mens enige oomblik saam met die trein gaan ontspoor. Vervolgens is ons na die “monkey falls.”  Dis iets soos ‘n twee man kano waarop jy ry. Jy beweeg met ‘n glybaan hoog op in die lug en dan stort jy daar af teen ‘n ontsettende steil helling en met ‘n ontstellende spoed tref jy dan ‘n poel met water dat dit voel jou maag kom by jou keel uit!

Uiteindelik is ons by die Cobra. Maar toe ek sien wat daar aan gaan, besef ek, ek het totaal en al nie geweet waarin ek my inlaat nie! Dan is die stomme mense se koppe onder en hulle voete bo en dan is hulle koppe bo en voete onder ... en almal gil dat dit ‘n naarheid is. Dit het vir my gelyk ‘n mens moet self vashou aan jou sitplek en ek dink toe by myself: “As ek nou daar moet losglip, val ek anderkant Tafelberg binne in die groot Atlantiese Oseaan se koue water!

Ek pleit toe maar om genade: “Ai my broer, ek het vir jou baie lief, maar só lief het ek jou darem nie. Ek sien regtig nie kans vir wat hier aan die gebeur is nie. Moet asb. nie van my verwag om saam te ry nie.”

“Nou maar goed, as pastoor dan nie kans sien nie, dan los ons dit maar.”

Terwyl ons terug beweeg, besef ek: Hierdie storie gaan rugbaar word in ons tuisdorp: Die pastoor is te bang om op die Cobra te ry terwyl die skoolkinders daarop ry. ‘n Teksvers skiet my te binne: Fil 4:13 – “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”

“Man, ek sal hom nou in die Naam van die Here gaan ry!” Om is ons, en daar klim ons die Cobra. Genadiglik word ons darem vas gegespe. Dis erger as erg! Dis onderstebo en deurmekaar en jou nek ruk en pluk dat dit voel dis verby met jou ... Die volgende oggend in die bidkamer (Ek loop die storie net so bietjie vooruit om jou ‘n idee te gee hoe erg was dit.) wys ek vir die mede bidders die foto wat geneem is tydens die rit. Een broer vra: “Pastoor, het seker verskriklik gebid?”

“Ai ou broer, ek het so groot geskrik, en alles gebeur so vinnig en te gelyk; ek moet bely ek het vergeet om te bid – daar was nie kans om te bid nie!”

Toe ons tot stilstand kom, kon ek net prewel: “Dankie Vader dis verby! U gee krag om die onmoontlike te vermag, want geen mens met normale chromosome kan so iets geniet nie!”

Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: News Church Hy gee krag...