• Create an account
    *
    *
    *
    *
    *
    Fields marked with an asterisk (*) are required.
01-swartland-technical-sercvices-air-con-banner-01

Heerlikheid is verewig

02-god-van-baie-kanse

HEERLIKHEID IS VEREWIG (1)

In die Twee Oseane Ultra Marathon is daar ‘n baie treffende slagspreuk, so min of meer 5 km van die einde af, wat my oog gevang het en wat op daardie stadium vir my baie beteken het: “Suffering is temporary but glory is forever.” In Afrikaans: “Lyding is tydelik, maar roem is verewig.”

Dit is spesifiek daar aangebring naby die einde van die wedloop, waar baie atlete voel om tou op te gooi of moed verloor weens uitputting. Dit moet hulle motiveer om te besef:

  • Die moegheid is nou, nou verby!
  • Nog net ‘n klein bietjie vasbyt!
  • Hou nog aan, jy’s amper daar!
  • Moenie nou jou pas verslap nie; dink net aan die oorwinning, goeie tyd, posisie of wat die prysgeld betref!
Ek wil glo dat daardie woorde, wat so strategies geplaas is, al vir vele deelnemers aan die jaarlikse Twee Oseane Marathon of half marathon, baie beteken het en tot groot inspirasie gedien het. Veral vir die voorste atleet, wat reeds ‘n moordende pas volgehou het en weet iemand blaas in sy nek om hom verby te steek en ‘n eerste plek beteken dat sy naam verewig is in die anale van padwedlope. En moenie die prysgeld weggooi - vanjaar (2010) s’n was ‘n hele R150 000!

DIE GEESTELIKE WEDLOOP

As weergeborene hardloop ons elkeen op die baan van die geestelike wedloop sê die Bybel.  1 Kor. 9:24 – “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.”

Op hierdie geestelike baan is daar baie stryd en pyn en vele dinge wat jou kan ontmoedig om klaar te maak en die uiteindelike prys van die hemel te haal. Dus, is daar ook baie uithouvermoë nodig. Nie almal wat begin, maak klaar nie. Vele sak uit langs die pad.

Daarom wil ek jou aanmoedig vandag om ook te dink aan die woorde op die laaste endjie van die Twee Oseane wedloop: “Suffering is temporary but glory is forever.” In die verband is die woorde in Rom. 8:18 so inspirerend: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” Al die stryd om die hemel te haal, is niks in vergelyking met wat aan die anderkant vir ons wag nie!

 

HEERLIKHEID IS VEREWIG (2)

Ek vra dikwels vir gelowiges: “Wat is vir jou die swaarste op die pad van die Here?” Hier is van die werklike antwoorde wat ek deur die jare gekry het:
  • Om nie weer terug te gaan na die ou lewe nie.
  • Om net op die pad van die Here te bly, vra van my alles.
  • Om as gerehabiliteerde alkoholis nie weer by mond aan dank te sit nie. Dis nou al soveel jare dat ek nie drink nie maar vele kere word ek nog steeds versoek en bly dit vir my ‘n ontsettende stryd.
  • Om getrou te bly aan my lewensmaat, want daar is soveel versoekinge op die pad wat mens teëkom.
  • Om nie toe te gee aan die versoeking van die duiwel om sonde te doen nie.
  • Om ander voortdurend te vergewe wat jou te na gekom het.
  • Om getrou te bly aan die roeping van die Here.
  • ‘n Afgetrede pastoor het geantwoord: “Om te moet stilbly terwyl ander vir jou kan sê net wat hulle wil.”
Vir my persoonlik is dit soms baie moeilik om te vas, veral as ek swak voel en ek moet fisiese harde werk doen. Of as ek honger voel op die dag as ek moet vas en daar word met die lekkerste kosse om my gewerk. Kyk, dan word dit ‘n lang dag..... 

Miskien val jou stryd en dit wat vir jou swaar is, buite die kader van genoemde dinge. Maar ek wil glo dat ook jý het iets wat dit vir jou swaar maak om in die geestelike wedloop te bly volhard. Maar dink aan die woorde wat daar langs die pad op gesit is vir die atlete tydens die laaste gedeelte van die Twee Oseane  Marathon: “Suffering is temporary but glory is forever.”

Ek kom moedig jou aan:
  • Moenie nóú ingee nie, die einde van die wedloop is te naby!
  • Stry hard om in te gaan deur die nou poort (Luk. 13:24)!
  • Al brand die versoeking soos ‘n vuur om toe te gee aan sonde, onthou dis net tydelik – die stryd om nie toe te gee en die genot van die sonde as jy toegee (Heb. 11:25). Die hemel gaan vir ewig wees! 1 Kor. 10:13 sê: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”
  • Dink aan die goudstad, die Nuwe Jerusalem met sy pêrelpoorte (Open. 21:21), met die kristal helder water wat uit die troon vloei (Open. 22:1). Dís o.a. die heerlikheid wat wag vir die oorwinnaars!
  • Dink aan Jesus wat aan die einde van die baan staan om aan elke oorwinnaar wat dit maak te sê (Mat. 25:21): “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.” 
Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: News Church Heerlikheid is verewig