GOD SLAAP NIE (1)
Eseg. 29:14 – “En Ek sal die lot van die Egiptenaars verander en hulle laat teruggaan na die land Patros, (Bo Egipte) na die land van hulle oorsprong; en daar sal hulle ‘n koninkryk van geringe betekenis wees.”In Eseg. 29 word daar geprofeteer hoedat die eens magtige Egipteland van geringe betekenis sou word. Hulle wat ‘n wêreld staat was en Israel verdruk het as slawe, tot niks sou raak. Hulle wat eens die ou wêreld oorheers het op elke terrein, sou ‘n nietige ou landjie word.
Inderdaad het hierdie profesie in vervulling gegaan. Die beskawingspeil en die boukuns van ou Egipte verstom nog steeds die argeoloë. Jaarliks stroom duisende toeriste na Egipte om te gaan kyk na die wonders van die wêreld in die vorm van die piramiedes wat die ingenieurs van die moderne tyd nog steeds in die war laat, omtrent hoe dit gebou is.Hieruit moet ons kennis neem:
GOD SLAAP NIE
Mensekind, God is wakker en slaap nie. Ps. 121:3 – “Jou Bewaarder kan nie sluirmer nie. (Vers 4) Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.” Ek en jy het dieselfde Bewaarder as Israel! Daar is ‘n paar dinge wat God nie kan doen nie in Sy volmaaktheid gestel teenoor ons as onvolmaakte mense – ek sê dit met groot respek teenoor God. Hier is een van hulle: God slaap of sluimer nie soos mense wat uitgeput raak nie. Dis verskriklik wonderlik om dit te weet veral as ander vir jou die lewe swaar maak!
In die aanloop tot die uittog uit Egipte sê die Here vir Moses (Exo 3:7): “Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte.” D.w.s God het nie geslaap of was afwesig toe die verdrukking van Sy volk plaasgevind het nie. Hy weet van alles!
GEBED
Here Jesus, dankie dat U alles sien wat ander aan my doen en weet van elkeen wat my probeer ondergrawe. Dankie dat U nie slaap nie, maar wakend oor my die wag hou. Ek kan rustig en vertrouend voortgaan in ‘n wêreld vol ongeregtigheid, naywer en jaloesie; wetende U sien my opregtheid en eerlike pogings. U sal my op die regte tyd verhoog! Amen!
GOD SLAAP NIE (2)Eseg. 29:14 – “En Ek sal die lot van die Egiptenaars verander en hulle laat teruggaan na die land Patros, (Bo Egipte) na die land van hulle oorsprong; en daar sal hulle ‘n koninkryk van geringe betekenis wees.”
GOD SE MEULE MAAL STADIG, MAAR GEWIS
Hulle wat onreg doen sal nie vir altyd voorspoedig wees nie. Ps. 37:10 praat selfs van ‘n klein rukkie: “En nog ‘n klein rukke en die goddelose sal daar nie wees nie.” In Ps. 73 sê Asaf (vers18 en 19): “U stel hulle op gladde plekke. Hoe word hulle in ‘n oomblik ‘n voorwerp van verbasing.”
Maar ander kere neem dit lank. Dit het nagenoeg 215 jaar (Dake’s) geduur voordat die Here uiteindelik Sy volk Israel uitgelei het uit die slawehuis van die Egiptenaars. Dalk sien ek en jy nie eens die vergelding en die regstellende aksie van die Here hier op aarde nie, en moet ons dalk wag vir die hiernamaals om dit te aanskou. Maar gee kans; kom sal dit kom, verseker!
Ps. 125:3 moet vir elke kind van God ‘n groot troos wees: “Want die septer van goddeloosheid sal nie rus op die erfdeel van die regverdiges nie, sodat die regverdiges hulle hande nie sal uitsteek na onreg nie.” Wat sê hierdie vers? Een kommentaar wat ek geraadpleeg het, gee die gedagte deur dat die Here weet ons is vlees en bloed en dat as die onregverdige verdrukking oor ons te lank aanhou, ons ook ons hand kan uit steek na onregverdige metodes. Dus, sal die Here toesien dat ons nie te lank verdruk word en dat die onregverdige te lank met sy wanpraktyke ons oorheers nie. Dit laat my dink aan daardie mooi teks in die Nuwe Testament nl. 1 Kor. 10:13 – “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”Kyk ook na die Nuwe Vertaling: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”
Dalk is jy ‘n persoon wat gereeld moet aanskou hoe mense wegkom met skelmstreke en selfs floreer. My troos aan jou vandag is net hierdie drie woorde: God slaap nie!
GOD SLAAP NIE (4)
Eseg. 29:14 – “En Ek sal die lot van die Egiptenaars verander en hulle laat teruggaan na die land Patros, (Bo Egipte) na die land van hulle oorsprong; en daar sal hulle ‘n koninkryk van geringe betekenis wees.”
NIEMAND VAT AAN ‘N KIND VAN GOD EN KOM DAARMEE WEG NIE
Daar is twee tekste in die Bybel waar die Here sy kinders beskryf as Sy oogappel!
- Deut. 32:10 – “Hy het hom (verwysend na Israel) gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.”
- Sag. 2:8 – “Want wie julle aanraak, raak Sy oogappel aan.”
Daar is net een ding wat jy in die verband nie moet doen nie. Moet jý net nie probeer om hand by te sit en ander by te kom nie. Los hulle vir die Here. Rom. 12:19 – “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn (die toorn van die Here); want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”
Jy moet aan hierdie verdrukkers van jou dink soos die opskrif lui van die vrou wat die plakkaat by haar man se werk opgesit het omdat hy gerook het: “Wees lief vir rokers, want hul tyd is min.”
Ek het dit in die praktyk van die lewe gesien hoedat diegene wat ander onregverdig behandel het, later, heelwat later, deur baie ergerlike omstandighede moes gaan.
Josef se broers wat hom sleg behandel het en hom onreg aangedoen het, het baie jare later elkeen voor hom letterlik kom buig!
Lees hierdie slot teks in Job 36:7 en laat dit jou bemoedig: “Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie, maar by konings op die troon laat Hy hulle sit vir altyd, sodat hulle verhoog is.”
Epos Inval Gedagte BedieningPiet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



