Petrus die heethoof, maar tog ‘n dissipel van Jesus. (Ek het maar altyd ‘n spesiale plekkie vir Petrus in my hart gehad, grootliks omdat ek sy naam dra.) Kom ons dink net vir ‘n oomblik aan al sy onnadenkende driftige uitsprake:
- Joh. 13:8 – “Petrus sê vir Hom: U sal my voete in der ewigheid nie was nie!” Maar toe hy hoor dat as Jesus hom nie was nie dan het hy geen deel aan Jesus nie, toe maak hy weer die ander uiterste uitspraak:
- Joh. 13:9 – “Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.”
- Luk. 9:33 – “En toe hulle van Hom weggaan, sê Petrus vir Jesus: Meester, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie hutte maak, een vir U en vir Moses een en een vir Elía—hy het nie geweet wat hy sê nie.”
- Mat. 16:22 – “Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!”
- Mark.. 14:29 – “En Petrus sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie.”
- Luk. 22: 33 – “Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan.”
Dis by hierdie laaste uitspraak van Petrus, dat ek die verhaal wil verder vat.
En wat gebeur toe daardie nag? Voordat die haan gekraai het daardie nag, het Petrus drie keer ontken dat hy vir Jesus ken! Nie oor ‘n tydperk van 10 jaar of langer, maar binne die bestek van ‘n dag.
Toe Jesus Hom omdraai en Petrus aankyk, het dit Petrus meteens te binne geskiet, wat Jesus hom vroeër daardie dag gesê het. “En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween.” (Luk. 22:62) Mens kan jou indink hoe verskriklik moes Petrus gevoel het. Die hartseer, berou en selfverwyt moes hom verteer het: “Ag, hoe kon ek dit doen! Ek wat so voorbarig en selfverseker was. O, wat het ek tog aangevang! Kyk net hoe het ek die Naam van my Jesus weggegooi. Ek is hopeloos sleg verby! Ek verdien niks meer as om verwerp te word deur God en mens …”
Maar die woorde van die engel is so vertroostend vir die vroue wat na die graf van Jesus gekom het, want dit gee hoop vir elkeen van ons wat as ‘n swakke mens struikel (Mark. 16:7): “Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”
Voel jy dalk vandag so goor en misrabel soos daardie nag wat Petrus buite in die donker gaan huil het omdat jy gestruikel het? Dink aan die woorde van die engel: “… en vir Petrus.” Jy kan jou naam met vrymoedigheid daarin sit, want jy is ook genooi!
Epos Inval Gedagte BedieningPiet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



