DIE VERLORE SEUN (Luk. 15:11-32)
Dis die mooi “kerk” seun wat so voorbeeldig saam met sy ouers die Here dien. In alles is hy getrou, want hoe kan hy tog sy vrome ouers teengaan. Hy kan tog onmoontlik hulle harte breek deur een van hulle geringe opdragte aan huis te weier. Kyk net wat bied hulle hom alles: ‘n Groothuis met alles wat sy hart begeer. Hy kan nie vir beter en meer op hierdie aarde vra nie.Maar die hunkering om vir homself die wêreld te gaan verken, raak net te groot sodat hy op ‘n dag dit nie meer kan uithou in die groothuis van sy ouers nie. Dit voel vir hom dit het ‘n tronk geword, hy moet uitbreek en wegkom anders sal hy versmoor.
Sy ouers het hom te lief om “nee” te sê en hom sy begeerte te weier. Tog is hulle harte gebroke. En so het hulle groot wag begin. Geen kommunikasie – hy antwoord nie ‘n selfoon of reageer op ‘n SMS nie. Hulle het nie die vaagste idee waar hulle seun hom bevind nie. Die moeder wonder:
- Het my seun darem elke dag kos om te eet?
- Slaap hy darem warm in die nag?
- Wie sal met slapenstyd vir hom ‘n nagsoentjie gee?
- Sal ek ooit weer my seun in my arms kan hou?
In die tussentyd het die seun sy rieme lelik styf geloop in die harde werklikheid van ‘n ongenaakbare en selfsugtige wêreld sonder die ouers se beskerming. Kort voor lank het hy besef daar is nie ‘n vergelyk te tref met dit wat die wêreld bied en dit wat hy by sy ouers aan huis gehad het nie.
- Alles in die wêreld is net op die uiterlike ingestel – by sy ouers het hy geleer dit gaan oor karakter en inbors.
- Alles in die wêreld is ingestel op selfverryking – sy ouers het gesê: Dis saliger om te gee as om te ontvang.
- Die oppervlakkige en kortstondige. Geen bewussyn van die hiernamaals.
Weer moes die seun sy lewe evalueer en kom hy tot die slotsom: My ouers was tog reg. Hulle wou my al die verdriet spaar, maar nou weet ek waar lê my heil: “Ek sal opstaan en na my vader gaan.” (Luk. 15:18)
Luk. 15:20 – “En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.”
Aan al die verlore en teruggevalle seuns en dogters wil ek die versekering gee: Die Here wag op jou terugkeer om jou nóg ‘n kans te gee!Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



