Rig. 16:28 – “Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer”.
SIMSON
Simson is die tipe mens met die baie talente of gawes, maar wat dit nie regtig waardeer nie en hoegenaamd nie toegewyd voor die Here lewe nie. Sy talent nl. Sy geweldige krag, wanneer die Heilige Gees oor hom vaardig geword het, het hom bevorder tot by die sport dat hy die skrik en die vrees van die Filistynse volk geword het.
§ Hy verskeur ‘n brullende jong leeu wat op hom afstorm met die kaal hande (Rig. 14:6);
§ Hy slaan dertig Filistyne sommer so vir ‘n “brekfis” dood net om hulle klere te bekom (Rig. 14:19);
§ Met ‘n vars eselskakebeen slaan hy duisend man onder die Filistyne dood (Rig. 15:15).
Maar i.p.v. verskriklik dankbaar te wees en met nederige erkenning voor God te leef, verbreek hy al die heilige beginsels wat van ‘n man van God verwag word wat die teenoorgestelde geslag betref. Aanhoudend beur hy verkeerd deur vroue onder die vyande van sy volk te begeer:
§ Rig. 14:1 – “Toe Simson afgegaan het na Timna, sien hy in Timna ‘n vrou uit die dogters van die Filistyne;”
§ Rig. 16:1 – “En Simson het na Gasa gegaan en daar ‘n hoer gesien en by haar ingegaan.” (GNB) “One day Samson went to the Philistine city of Gaza, where he met a prostitute and went to bed with her.”
§ Rig. 16:4 – “Daarna het hy ‘n vrou in die dal Sorek liefgekry, wie se naam Delíla was.” (Kommentare is dit eens dat sy ‘n Filistyn was.)
As Nasereër (Rig. 13:5) van sy geboorte af, was daar onthoudings geloftes teenoor God in sy lewe. Hy het dus nog onder strenger reëls geleef as die gewone Israeliet. Hoe genadig was God deur hom elke keer nog ‘n kans te gee al het hy homself besoedel met die Filistynse vrouens. Selfs na sy slaap by die vrou in Rig. 16:1 het die Gees van die Here nie van hom gewyk nie. Daardie selfde nag het hy nog “die deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en dié met grendel en al uitgeruk en op sy skouers gesit en dit opgedra na die top van die berg.”
Uit eindelik het hy darem net een te ver gegaan toe sy hare afgeskeer is en het die Gees van God hom verlaat (Rig. 16:20). Uiteindelik staan hy sonder krag en sonder sy twee oë tussen die twee pilare waarop die gebou gerus het terwyl die Filistyne ‘n groot fees hou. “Toe roep Simson die HERE aan en sê: Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God” (Rig. 16:28). En so genadig is die Here om hom nóg ‘n kans te gee, want meteens is die ou krag terug en ruk hy die pilare in mekaar sodat die dooies onder die Filistyne meer was as wat hy ooit in sy lewe gedood het (Rig. 16:30).
Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



