• Create an account
    *
    *
    *
    *
    *
    Fields marked with an asterisk (*) are required.
01-swartland-technical-sercvices-air-con-banner-01

Die gedeeltes wat jy wel verstaan

02-god-van-baie-kanse
Vanoggend het ek geworstel met Dan. 11 en 12 in my persoonlike tyd met die Here. Daar is soveel profesieë verwysend na die einde en mens weet nie wat dit alles beteken nie. Selfs die kommentare tot my beskikking oor dié Skrifgedeeltes, verskil van mekaar. Ja, jy’t reg gelees; ook die leraars worstel en weet en verstaan nie alles in die Bybel nie.

Maar toe troos die volgende gebeurtenis my. Ek onthou hoedat ‘n jongman in ‘n vorige gemeente eendag die opmerking teenoor my gemaak het: “Daar is nog so baie dele in die Bybel wat ek nie verstaan nie.” En my ore hoor wat my mond antwoord: “Wat maak jy met die gedeeltes wat jy wél verstaan?”

Hoe dikwels soek ons na nóg en nóg nuwe dinge in die Bybel. Ons wil voortdurend nuwe openbarings kry uit die Woord. Wanneer iemand preek moet dit net altyd nuwe dinge wees. Ons wil nie die ou waarhede hoor nie. Ons het omtrent geword soos die Atheners in die tyd toe Paulus daar langs beweeg het. Hand. 17:21 – “Nou het al die Atheners ... , vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts ... te hoor nie.”

Die meeste van die mense wat Paulus dié dag op die Areopaus (Hand. 17:19) aangehoor het, wat so naarstiglik gesoek het na iets nuuts, het toe ook maar niks daarmee gedoen nie (Hand. 17:32, 33) – net soos al die vorige kere, kan ons aanneem.

Kyk hoe het Jesus die vraestellers van Sy dag hanteer toe hulle vir Hom gevra het na die gesag waardeur Hy die wonderwerke doen.

Luk. 20:3 – “En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra—sê vir My:”

Luk. 20:4 – “die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense?”

Uit vrees vir die skare het hulle toe gemaak asof hulle nie weet nie.

Luk. 20:8 – “En Jesus sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Die afleiding: Geen verdere openbaring sal jou gegee word as jy nie gewillig is om gehoorsaam te word aan dit wat jou reeds gegee is nie. Wat wil jy elk geval met nóg kennis maak as jy niks daarmee gaan doen nie? Is jy ook soos baie wat aan ‘n Bybelstudie groep behoort om Bybelstudie te doen, om Bybelstudie te doen, om Bybelstudie te doen ... om uiteindelik ook niks daarmee te doen nie?

Wat doen jy met die gedeeltes uit die Woord wat jy wél verstaan? Dís ‘n baie belangrike vraag!

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

 

You are here: News Church Die gedeeltes wat jy wel verstaan