Ons reël 'n Daniël Konferensie in Malmesbury in die Swartland vanaf Vrydag 30 April tot Saterdag 1 Mei 2010, met „n Sondagoggenddiens in die NG Swartland gemeente die 2de Mei.
Die konferensie is vir mans van alle ouderdomme. Hierdie spesifieke Daniël konferensie is egter baie spesiaal en maak ons baie opgewonde vir God se groot werk in ons land. Kom ek verduidelik.
As jy dalk nog oningelig is oor die profesie wat Elsa Meyer gehad het, dan moet ek hier begin, want dan eindig jy in Malmesbury, in die Swartland by ons Daniël Konferensie.
Jy kan gerus Elsa se hele verhaal gaan lees op die webwerf www.turn2god.co.za. Ek moet net een kern gedagte uitlig.
Dit was in 2002 dat die Here met haar gepraat het oor “SA draai terug na God toe.” Sy vertel dat sy een Sondagaand na kerk nogeens gepleit vir ons land. Dit was laataand. Sy en haar man was al in die bed, toe sy God met haar hoor praat. Hy het vir haar gesê: “Sê vir SA: Draai terug na God toe!” Sy het die Here geantwoord dat niemand haar sou hoor nie, aangesien haar stem te sag is. God het weer met haar gepraat – hierdie keer dringend: “Sê vir SA: Draai terug na God toe!” Sy het toe die land opdrag gegee om na God toe terug te draai. In haar geestesoog kon sy die boodskap in klankgolwe oor die land sien spoel. Sy vertel hoe sy gesien het hoe die klankgolwe teen die Drakensberge vasslaan en oor die land uitkring. Sy het gesien hoe die stropers op die ryp koringlande in die Malmesbury-distrik ophou stroop en hoe die werkers afklim en die boodskap hoor! Oral het mense uit winkels en huise in die Karoo-dorpies op straat uitgeloop en opgekyk. Sy kon sien dat hulle die boodskap hoor! Na hierdie gesig het sy ‟n ander stem hoor sê: “2008.” Op daardie stadium het sy diep binne in haar gees geweet dat hierdie datum belangrik is.
Wat gebeur het deur ons land sedert hierdie profesie is merkwaardig. Die eerste Hadassa & Ester konferensies is reeds in 2006 aangebied asook „n Daniël konferensie vir manne in 2008. Die verdere uitvloei hiervan deur ons land is vandag geskiedenis. God het Elsa se profetiese woorde waar gemaak.
Soos jy kon hoor, die enigste dorp wat in hierdie profesie by naam genoem is Malmesbury en distrik, of te wel die Swartland. Dis eintlik „n baie klein streek wat rondom Malmesbury lê. Ek glo uit my hart dat hierdie profesie nie voltooi kan word as ons dit nie ook in Malmesbury aanbied nie.
Vanaf Maart 2007 beleef ek persoonlik „n wonderlike pad saam met God wat so uitgewerk het dat ek self na die Kaap verhuis en 1 Aug. 07 in Melkbosstrand begin werk. Terwyl ons as gesin „n nuwe tuiste soek, roep God ons na Malmesbury waarheen ons dan ook verhuis in Des 2007, nog onbewus van Elsa se profesie. Toe ek in Malmesbury aankom ontdek ek dat ek nie die enigste een is wat Malmesbury toe geroep is nie. Ek ontdek verder hoe God besig is om sy kinders op te roep om radikaal anders te begin lewe en daar was baie momente waar mense verdiep het in hulle verhouding met God. Dit was kompleet of God Sy kinders voorberei vir iets. Daar was en is nogsteeds „n dringendheid rondom hierdie saak. Ons gemeente se visie is: Ons werk graag in God se oesland! Toe het ek nog nie verstaan watter verband daar is tussen Malmesbury en die professie en God se oesland nie.
Aan die begin van 2009 vertel ek eendag vir „n kollega van God se pad met my en wat in Malmesbury gebeur. Sonder om enigsins verbaas hieroor te wees maak hy „n stelling wat amper iets is soos “o ja, dis mos wat Elsa by die Daniël Konferensie by Moreletapark voorspel het” (hy was daar). Wat meer is, hy kon die professie woord vir woord onthou. Toe hy dit vir my vertel het my gees „n geweldige oplewing ervaar oor sy woorde en was ek onmiddellik so emosioneel dat ek nie kon praat nie. Skielik het ek besef hier is baie groter dinge besig om te gebeur. Ek het dit met my vrou Erika en verskeie ander Christen vriende gedeel en toe Erika hoor van die Daniël Konferensie in Piketberg in Junie 2009, was ek dadelik ingeskryf.
Hier het ek finaal besef ons moet ook in Malmesbury „n Daniël Konferensie aanbied om ons klein deel te doen in God se plan. Alles het net begin gebeur en God self het ons bestuur. Binne die 1ste week van reëlings was alles basies gereël.
Die vroue het 5&6 Maart 2010 „n Hadassa konferensie gehou in Malmesbury en ons het beleef hoe God die mure in Malmesbury begin afbreek. Ek het egter nie presies verstaan hoe ernstig God oor mure afbreek is nie totdat Hy ons oortuig het om Daniël ook in ons plaaslike tronk aan te bied nie. Hieroor is ons ook baie opgewonde, want almal in Malmesbury moet die boodskap kry om terug te draai na God.
Kom ek deel iets oor Malmesbury se geskiedenis: Malmesbury is die 5de oudste gemeente in die land (1745) Die evangelie het reeds meer as 260 jaar gelede hierheen gekom. Ons sien nou met „n verwagting uit dat ons 150 jaar na die Andrew Murray herlewing, weer manne en vroue sal oprig in waarheid. Om in vas en gebed in te tree vir ons dorp en ons land en deel te wees van die golf van herlewing wat oor die land en die kontinent van Afrika spoel.
Ons gaan verskeie sprekers hier hê en sommige insetsels gaan op DVD gedoen word. Ons kan tans nog nie vir Elsa self hier kry nie, maar ons bid nogsteeds dat sy dit dalk self kan kom. Ten tye van die Daniël konferensie in 2008 het sy vertel dat sy self nog nie in Malmesbury was nie.
As jy vandag hierdie boodskap hoor wil ek jou hartlik uitnooi na Malmesbury. Kom wees deel van iets besonders en kom beleef hoe God werk. Ons is beperk op spasie en kan slegs 700 mans akkommodeer. Dit gaan jou slegs R200 kos. Bespreek nou en verseker jou plek by die Daniël Konferensie vir manne in die Swartland op 30 April en 1 Mei 2010, slegs 65km uit Kaapstad. Ons beplan om dalk „n tentedorp op te rig as daar genoeg mense is wat wil kom oorslaap. Jy kan my kontak by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of op my sel by 082 460 7593 vir meer inligting.
Frans Meintjes
Koördineerder: Daniel Konferensie Malmesbury
30 April tot 1 Mei 2010
Faks: +27 86 604 6620
Sel: +27 82 460 7593
E-pos:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it



