• Create an account
    *
    *
    *
    *
    *
    Fields marked with an asterisk (*) are required.
01-swartland-technical-sercvices-air-con-banner-01

Bou jy mure of brue

02-god-van-baie-kanse

BOU JY MURE OF BRÛE? (1)

Daar is deur die jare interessante indelings van mense gemaak. Sielkundiges is gereeld besig om mense in te deel in een of ander klassifikasie. So kry ons:

‘n OptimIs of ‘n pessimis,
  • ‘n Introvert of ‘n ekstrovert,
  • Sommige is energie tappers terwyl ander is energie gewers.
  • Jy’s deel van die oplossing of deel van die probleem.
  • En die Bybel praat van gelowiges en ongelowiges.
So kan ons voortgaan en nog ‘n indeling maak en sê, alle mense is bouers. Òf jy bou mure òf jy bou brûe.

BOUERS VAN BRÛE

Daar is mense wat sonder dat hulle dit noodwendig besef, mure van afsondering om hulle bou. Moontlik uit bitterheid a.g.v. iets wat met hulle gebeur het, isoleer hulle hulself van die samelewing of die gemeenskap. Hulle meng nie met ander nie – onttrek hulle aan alles.

Hulle is geslote mense – hou ander mense altyd op ‘n afstand. Hulle laat nie ander mense naby hulself en in hulle lewens toe nie. Hulle hou daarvan om te sê: “Ons is privaat mense.”

Ander het die mening: “Ek het niks van enige iemand in die lewe nodig nie. Ek is jonk, sterk, ryk en onafhanklik van ander.”

Hierdie mense is gewoonlik ook nie deel van die plaaslike gemeente nie. Ook nie ingeskakel by ‘n selgroep. Hulle sal nog eerder agter groot byeenkomste aanry, waar niemand hulle ken nie. Hulle ken nie so iets soos “fellowship” en gemeensaamheid met ander of vriende nie.

Daar Kom ‘n Dag

Maar o, daar kom ‘n dag, en hulle moet dit ook verwag en dit gaan hulle tref met ‘n slag! En dan is dit nag ...

Ewe skielik op ‘n dag gaan hulle besef hulle is oud en afgeleef! Meteens tref siekte hulle en is hulle eensaam en stoksielalleen in ‘n hospitaal of ouetehuis en afgesonder van die bekende waarmee hulle hulself omring het. En dan ...?

Ons hoor van tyd tot tyd dat daar is seker seniors wat deur hulle kinders by ouetehuise “gedump” is. En te reg is ons met deernis gevul en sê ons: “Ag siestog!” Maar weet jy wat? Die meerderheid van kere (miskien in al die gevalle) is dit mense wat ‘n muur-bou-lewenswyse gesaai het en nou maai hulle!

As jy nog nooit oor jou lewe besin het nie, dan is dit nodig dat jy dit nóú doen n.a.v. wat jy so pas gelees het.

 

BOU JY MURE OF BRÛE? (2)

Luk 16:9 – “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende …”

In Luk. 16:1-9 gaan dit oor die bestuurder wat skuldig was aan wanbestuur. (Miskien iets soos wat dit deesdae gaan by van die munisipaliteite van ons land.) Maar toe hy vas gevat word, het hy vriende gemaak met die debiteure van die firma deur ‘n groot gedeelte van hul skuld af te skryf sodat hy in goeie stand met hulle sou verkeer, sou hy afgedank word. Toe die eienaar dit te hore kom, het hy die versiendheid van hierdie bestuurder geprys. Een vertaling sê selfs dat die bestuurder is weer in sy pos aangestel.

VOORBEELDE VAN MUUR BOUERS

Daar is dierbare mense wat hulle so posisioneer wanneer hulle kerk besoek dat hulle hulself daar iewers in “skaamhoekie” gaan indruk, uit die sig en oë van almal, sodat hulle vinnig weer kan uitkom. Wanneer dit lyk die prediker is besig om sy slot gedagte te deel, dan begin hulle al oppak en gereed maak om vinnig voor almal buite te kom. Nooit sal hulle ‘n geselsie met iemand aanknoop en mense leer ken by die kerk nie. Nooit sal hulle ‘n bydrae lewer of aan iets deelneem of by iets betrokke raak nie. Gevolglik het hulle ook geen vriende by die kerk nie. Kom ons gee hulle die voordeel van die twyfel en sê, hulle is nie eens bewus dat dit wat hulle doen, stuur af op iets waaroor hulle later baie spyt gaan wees nie.

Omdat daar geen bande is wat hulle bind nie, verlaat hulle ook sommer weer vinnig die gemeente en gaan hulle op ‘n kerklike reis -  verskuif hulle van gemeente na gemeente. Hoe hard dit ook al mag klink; sulke mense is eintlik niks anders nie as geestelik boemelaars, smekende vir ‘n geestelike aalmoesie. Soos rondloper honde dwaal hulle rond van kerk na kerk. Hulle kan onder die beste prediking sit, maar so lank as wat hulle nie vriende maak by ‘n gemeente en geen geestelike adres het nie, sal hulle swerwers bly vir die res van hulle lewe. (Verdra my asb. as dit klink ek is hard op mense, maar dalk maak dit hulle oë oop.)

Maar daar kom ‘n dag ... dat hulle siek of met ‘n probleem by hulle huis gaan sit. En dan sal hulle verlang dat die kerkmense of ander hulle moet kom besoek. Maar niemand sal opdaag nie, want niemand ken hulle nie! Niemand sal eens agterkom dat hulle nie meer by die kerk is nie, want hulle het mos geen vriende gemaak nie. Hierdie mense sal by die huis sit en almal verwyt: “Niemand besoek ons nie en daar is geen liefde onder die Christene van hierdie dorp  nie.” Maar hoe moet die gelowiges by die kerk van hulle weet, want hulle het mure om hulle gebou en almal op ‘n afstand gehou.

GEBED

Here help my ek wil nie ‘n bouer van mure om my wees nie. Amen!

 

BOU JY MURE OF BRÛE? (3)

Luk 16:9 – “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende …” 

VOORBEELDE VAN MUUR BOUERS (vervolg)

‘n Familie betrekking vertel my van ‘n geval waar ‘n vrou haar hele lewe lank haarself nog geïsoleer het. Sy gaan nooit kerk toe nie. Sy het geen vriende nie Haar man is geweldig jaloers, gevolglik kom sy nooit iewers tussen mense behalwe by haar werk. Toe ontdek sy dat haar man is ontrou aan haar en wil nou van haar skei. Hoe nou?

Ek sê: “Sien jy. Dis nou presies waarvan ek praat. Sy het haar hele lewe lank mure om haar gebou en nou het sy nêrens om heen te gaan nie. Sy het nou die liefde nodig van ‘n gemeente en ‘n selgroep wat haar kan koester, bemoedig en dra vir die volgende tydperk totdat sy deur die krisis is. As sy nou maar bv. by ons in die gemeente kon wees, waar daar soveel omgee is of enige van die baie ander gemeentes met liefde.”

Vervolg ek verder sonder om doekies om te draai: “Jy self is ook nêrens ingeskakel nie. So, eintlik kan jy haar nie help nie. Jy en daardie persoon sal julle verkeerde lewenstyl moet afleer en die regte aanleer en betrokke raak by God se metode nl. die gemeente.”

NIEMAND KAN BEKOSTIG

Niemand kan dit bekostig om

  • ‘n Korrelkop te wees nie;
  • ‘n Moeilike mens te wees nie;
  • ‘n Weerbarstige gesindheid te openbaar nie;
  • ‘n Onklaarkomstige mens te wees;
  • ‘n Dwarstrekker;
  • Liggeraak,
  • Of ‘n rusiemaker te wees nie.
Elke keer wat ek of jy onnodig moeilik is, dwars is, ongeskik is met ander, ‘n koue skouer gee vir ander of weerbarstig is, liefdeloos optree, verwaand en beterweterig oorkom na ander; is ons besig om brûe af te breek en dik mure om onsself te bou. Daar kom ‘n dag ... dat ons ander gaan nodig kry, en dan? As ‘n mens dan mure om jouself gebou het en ander van jouself af weggestoot het, sal daar niemand wees wat jou ‘n skouer of ‘n oor gaan bied nie.

Dan sal mense huil ... Maar dan sal dit te laat wees vir trane!

 

BOU JY MURE OF BRÛE? (4)

Luk 16:9 – “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende …”

VOORBEELDE VAN MUUR BOUERS (vervolg)

‘n Afgetrede persoon wat haar aan alles en almal onttrek het, het ewe skielik ontdek dat sy siek is. Almal was te “common” na haar sin toe sy jonk was. Sy het nêrens gegaan en met niemand gemeng nie. Selfs die familie was benede haar stand. Ook nie eens kerk toe gegaan nie, want dit was volgens haar al die skynheiliges van die dorp. Vandag sit sy oud en afgeleef by die huis. Haar presiese woorde: “Dit voel asof 40 jaar van my lewe gesteel is. Dit voel asof ek vir 40 jaar nie geleef het nie. Ek het my afgesloof vir my werk, maar ek het vandag geen vriende nie ...”

Tydens ‘n huwelik seminare kamp met voornemende huwelik paartjies en jonggetroudes het die aanbieder gesê: “Die verkeerdste ding wat ‘n paartjie kan doen na hulle huwelik, is om hulle af te sonder van die res van die gemeenskap of die kerk.” ‘Ons is nou so verlief en verlore dat ons het nie tyd vir ander dinge as net vir mekaar.’ Hulle kom en gaan nêrens.”

Ongelukkig is daar talle sulke paartjies wat besig is om mure om hulle te bou. Maar voorwaar die dag kom dat hulle almal en alles en die kerk gaan verwyt: “Niemand kom by ons en besoek ons nie,” want hulle het gesaai en dan maai hulle ‘n eensame lewe tussen hulle eie geboude mure (Gal. 6:7).

MASKERS

Ek vra vir ‘n geestelik gevorderde persoon sommer net om die reaksie te toets: “Waarom sal mense hulle so afsonder en eenkant hou en nie ander in hulle lewe wil toe laat nie?”

Terwyl ek nie dink dit is in alle gevalle die waarheid nie, antwoord die persoon: “Maskers ... Mense dra makers en wil nie hê ander moet te na aan hulle kom om te ontdek hulle is nie so “grand” soos hulle skyn te wees nie.”

Almal se latere ervaring bewys dat dit nie die moeite werd is om met skyn deur die lewe te gaan nie. Wees liewer eg met tekortkominge en al en laat mense om jou toe wat jou nou kan bystaan en ook later, wanneer ons elkeen baie afhanklik van andere raak.

 

BOU JY MURE OF BRÛE? (5)

Luk 16:9 – “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende …”

BOUERS VAN BRÛE

Jesus was ‘n brug bouer! Toe sonde ‘n diep skeur en kloof tussen God en mens en tussen die hemel en die aarde gelaat het, het Jesus gekom en die afstand kom oorbrug deur met Sy liggaam op die kruis te gaan lê, sodat hulle Hom kon dood maak. Jesus het in ons plek vir ons gesterf en ons weer met God versoen en so die afstand wat sonde gelaat het uitgewis. 2 Kor. 5:18 – “... God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus.” Elkeen wat hierdie waarheid persoonlik aanneem en omhels in die gees, kan met God versoen word!

As Jesus dan ons voorbeeld is, moet ons ook brug bouers wees. Hier is ‘n paar brug bou versies. Lees dit aandagtig deur en deurdink dit asb. – ek kan dit nie beter stel nie:

  • Rom. 12:10 – “wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;”
  • Rom. 12:13 – “Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid;”
  • Rom. 12:14 – “seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie;”
  • Rom. 12:15 – “wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween;“
  • Rom. 12:16 – “wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie;”
  • Rom. 12:17 – “vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;”
  • Rom. 12:18 – “as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”
  • Rom. 12:19 – “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”
  • Rom. 12:20 – “As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.”
  • Rom. 12:21 – “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
  • Gal. 6:10 – “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”

Wie hierdie dinge nastreef en daarin leef, sal verseker nie ander mense wegstoot nie, maar mense na Christus trek én hy of sy sal omring wees met baie vriende!

 

BOU JY MURE OF BRÛE? (6)

Luk 16:9 – “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende …”

BOUERS VAN BRÛE

Mense wat brûe bou is oop en toeganklik vir ander. Selfs ook hulle lyftaal trek aan en stoot nie af nie. Hulle leef na God toe en uitreikend na mense.

Stefan Joubert het vertel van die petrol joggie wat vir hom gesê het by die vulstasie: “You’ve made my day.” Toe hy vra hoekom? Toe antwoord die man: “You’ve called me sir!” Gewoonlik is mense ongeskik en ongeduldig met petrol joggies en kyk op hulle neer asof hulle werk minderwaardig is. En hier kom hy as Christen en behandel die man soos ‘n mens en dit maak sy dag.

Eienskappe

Liefde bou brûe. Brug bouers is hoflik, nederig, bedagsaam en betoon respek vir ander se andersheid. Is hulpvaardig, gasvry en vriendelik. Hulle is selfs sensitief vir ander se gebreke en tekortkominge. Skryf nie mense af nie, maar help diegene op wat geval het op die lewenspad en moedig hulle aan. Mense wat brûe bou het geleer om ander te komplimenteer vir hulle mooi eienskappe en prestasies. (Sien Luk. 6:31)

Woorde

Die volgende woorde bou brûe na ander se harte: “Dankie, asseblief, mooi gedoen, ek waardeer jou” ens.

Soms is dit nodig om net stil te bly en maar die skuld ten volle op jou te neem, al het ander ook skuld.

Dan is daar woorde of ‘n enkele sin wat so vinnig werk soos “superglue.” Dit herstel gebroke verhoudings soos blits. Dit breek mure af tussen mense in ‘n ommesientjie en verander dit in brûe na mense se harte toe.

En dis die woorde:
  • Ekskuus,
  • Jammer,
  • My skuld,
  • Ek vra om verskoning.
  • Vergewe my asb.
Harde harte versag en verander by die aanhoor van een van hierdie opreg bedoelde woord of sinnetjies. Dit kos dat ek en jy moet klein en nederig word in onsself, maar voor God sal ons groot wees!

Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

 

BOU JY MURE OF BRÛE?

(Getuienis van Dorothy de Klerk – geplaas met toestemming)

My ma is nou 81 en in die Huis Vergenoegd ouetehuis in die Paarl. Sover ek kan onthou het sy altyd nuwe vriende gemaak en haarself daarvoor beywer om goed te hou met ander mense. Sy was nooit onvriendelik met kuiergaste nie – sy sou altyd uit haar pad gaan om mense tuis te laat voel. Selfs die minder gegoedes, die behoeftiges, enige persoon was welkom. Sy was altyd hartlik en gasvry.  Iemand het ‘n paar jaar gelede oor haar geprofeteer en gesê: “Jy sal nooit in jou lewe te min hê in aardse goed en kos nie!” Die rede hiervoor was dat sy altyd van haar goed weggee aan ander. As sy 4 appels kry, sal sy 2 weggee, of miskien sommer alles. Van als wat sy kry, sal sy vir iemand anders gee. En sy het altyd oorvloed – te veel vir haarself. Nodeloos om te sê – sy het definitief brûe gebou sover sy gegaan het – nooit mure nie.

Nou is sy oud en in ‘n aftree-oord en dolgelukkig! Die rede? Sy het so baie vriende, sy is nooit alleen nie. En hulle dra net aan – dis sjokolades, koekies, joghurt, vrugte, lekkers, tydskrifte, ens, ens.  Dit is net soos ‘n fontein wat aanhou loop al die pad. En dan raak dit te veel vir haar, dan maak sy dit bymekaar vir haar kinders en kleinkinders. ‘n Dag soos gister wat ons lekker saamgebraai het, het sy allerhande eetgoedjies vir ons gebring – in plaas daarvan dat ons vir haar aandra, dra sy vir ons aan en bederf sy ons!!!!

Ek het haar nou die dag gebel, toe sit daar 7 mense in haar eenslaapkamer woonstelletjie. Toe moet ek maar later terugbel. Die kuiergaste hou regtig nooit op nie – en dis nie net ou mense in die ouetehuis nie, dis jonger mense ook van buite wat so kom kuier. Ons moes nou die dag hoor sy is die beste ding wat die ouetehuis ooit kon tref, want sy het al die ou mense aan die woeker met hul talente. Sy doen breiwerk, hekelwerk, kralewerk en kunsnaaldwerk – te pragtig.  En dit in haar beperkte ruimte. Sy sê as jy nie hou van haar deurmekaar plekkie nie, hoef jy nie te kom nie!  Maar steeds stroom die mense daar in – party net vir morele ondersteuning. Sy leer nou vir die ander ou mensies hekel en krale werk doen.  En sy help die bestuur van die ouetehuis om die mensies wat net sit en niks doen nie, se talente te soek en te ontwikkel. Sy laat sommer vir hulle sokkies brei en doilies maak – enige ding om besig te bly. Sy het op 80 vir haar ‘n splinternuwe karretjie gekoop en nou ry sy almal wat nie meer kan nie, dorp toe of dokter toe of apteek toe. Ook die wat Alzheimers het. Dan help sy hulle om oor die weg te kom.

Sy kom na die boere toe, vra vir uitgooi tamaties, butternuts of enige vrugte of groente wat hulle nie kan mark toe vat nie, dan laai sy dit in haar karretjie, en gaan laai oral af by behoeftiges in die Paarl. Dan kry sy raas by die bestuur, want sy kom eers laat in haar kamer – van oral rondkuier. En as sy so vir ‘n dag uit was, dan maak hulle haar gek – almal kom vra waar sy was en sê sy moenie so lank wegbly nie. Hulle mis haar. Sy geniet haar gate uit – sy is die spreekwoordelike “bell of the ball”. En sy gaan op die senior burger uitstappies want hulle wil nie sonder haar gaan nie – hulle betaal sommer vir haar, net dat sy moet saamgaan.

Sy het al by 3 geleenthede ou mensies se lewens gered. Twee het al blou geraak aan die etenstafel van kos wat te groot stukke is, dan sit dit in hul lugpype vas, dan doen sy die Heimlich manouver wat sy agter die ou staan, en vinnig op sy maag druk, dan skiet die kos uit………..altwee was agterna baie dankbaar en het natuurlik sjokolades aangedra. Die ander een was ‘n diabeet wat in haar kamer flou geval het, en sy het weer gehelp en die ou oom bygebring.

Terwyl ek nou hier tik, is sy by my suster op die plaas besig om tamaties in te maak in flesse. Sy het weer klomp kiste uitgooi tamaties êrens gekry en nou word dit gekook, en verwerk en in flesse ingemaak – net reg vir gebruik. Dan deel sy dit uit – sover sy gaan. En haar energie is ongelooflik! Soms maak sy my moeg, want sy kan aanhou en aanhou – nimmereindigend.

Die punt wat ek wil aanraak, is dit : So lyk iemand op 81 wat altyd brûe gebou het.  Nou pluk sy die vrugte en sy is ‘n dolgelukkige ou mensie wat nog steeds almal rondom haar positief beïnvloed. Vol nonsens ook partykeer – soms uitgesproke en vol dingetjies, maar so baie ander mooi eienskappe wat dit oorskadu.

Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: News Church Bou jy mure of brue