AG NARE DINGE WAT GOD NIE DOEN NIE (1)
Ek was aangegryp deur die Living Bible se vertaling van 2 Thess. 3:5 – “May the Lord bring you into an ever deeper understanding of the love of God and of the patience that comes from Christ.”
Ek het my eie vertaling hiervan terug in die Afrikaans probeer maak: “Mag jy voortdurend groei in die bewustheid van hoe groot God se liefde regtig is. Dat dit nooit ophou, en nie uitgeput kan raak nie en dat daar geen menslike grense is aan God se liefde nie.”
Omdat daar nog iets geskort het, het ek nog ‘n vertaling probeer maak: “Mag jy elke dag besef dat God se liefde en die geduld van Christus groter is as wat jy die vorige dag dit in jou lugkastele bewonder of oor gedroom het.”
Al peinsende oor hierdie vers het ek net weer diep onder die besef gekom hoe anders is die mens en die dinge wat die mens doen teenoor hoe God is. Dit het my gevoer na die gedagte, hoeveel nare dinge daar is wat mense doen (ek soms inkluis) maar wat God nie doen nie. Alhoewel die Here dikwels van hierdie dinge beskuldig word.
GOD BESKULDIG NIERom. 8:33 – “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?“ As ek en jy gered is, is ons God se uitverkorenes. Loof die Here!
Nou vra die Bybel hierdie vraag: Wie sal God se kinders wat gered is, beskuldig? Beslis nie God nie! Ja, die demone en mense sal my en jou as Jesus se dissipels beskuldig van goed wat ons jare gelede gedoen het en selfs klaar bely en laat staan het. Die duiwel se trawante sal dit oor en oor in jou oor kom fluister: “Jy het dit gedoen, Jy het dit gedoen ...”- Dawid Yongy Cho van Korea het vertel hoedat tydens die vroeë oggend biduur ‘n bose gees binne een van die biduurgangers begin het om die sondes van jare gelede oor elkeen te begin uit profeteer.
- So ‘n tyd gelede kom ek by ‘n byeenkoms waar ek kennisse uit my jeug teëkom en die eerste wat hulle onthou en oorvertel is die dinge wat ek gedoen het toe ek onbekeerd was.
Ag nare dinge wat God nie doen nie – nr. 1 – Hy beskuldig nie!
AG NARE DINGE WAT GOD NIE DOEN NIE (2)
GOD VEROORDEEL NIE
Rom. 8:34 – “Wie is dit wat veroordeel?”
Hoeveel kinders van die Here leef onder veroordeling – diepe veroordeling! Voordurend voel hulle skuldig:
- “Ek is nie goed genoeg nie.”
- “Ek moet nog eers heiliger word .“
- “Ek moet nog meer aflê.”
- “Ek moet nog meer presteer, voordat ek vir God aanvaarbaar is.”
Weet jy wat bepaal alles ‘n mens se gevoel?
- Die weer – as dit bewolk is voel ‘n mens te neergedruk.
- Temperatuur – as daar ‘n hitte golf oor die land beweeg en dit so warm is dat die kraaie gaap, voel enige een van ons kragteloos en lus vir niks nie.
- Watter tyd van die dag dit is – 2 nm. voel almal lui en vaak.
- Die kos wat jy eet en die hoeveelheid bepaal gevoel.
- Hoe jy die nag geslaap het en hoe jy opgestaan het.
- My en jou gesondheidstoestand.
- Hoe vaak en moeg jy is.
- Watter tyd van die maand en jaar bepaal. Is dit ver of naby “pay day?
Nou vra ek: Kan enige van hierdie goed nou God se liefde vir my meer of minder maak? Nee, duisend maal nee! Sy liefde is ‘n konstante liefde!
Die Skrif gaan voort (Rom. 8:34) om Sy lesers onder die besef te bring; God veroordeel nie: “Christus is dit wat gesterf het, ja meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” D.w.s Jesus is ‘n pleitbesorger! Hy lewer ‘n pleidooi voor Sy Vader in die hemel op grond van Sy kruisdood om ons los te kry van alle skuld en blaam.
Onthou jy nog daardie mooi teks in die Living Bible waarmee ons begin het (2 Thess. 3:5)?: “May the Lord bring you into an ever deeper understanding of the love of God and of the patience that comes from Christ.”
AG NARE DINGE WAT GOD NIE DOEN NIE (3)
GOD VEROORDEEL NIE (vervolg)In Joh. 8 lees ons van die vrou wat deur die skrifgeleerdes en Fariseërs op ‘n daad van egbreuk betrap is en wat hulle na Jesus gebring het. Hulle naarstiglike begeerte om te beskuldig en te veroordeel maak dat hulle nalaat om presies te handel volgens hulle eie voorskrifte uit die wet van Moses nl. die in Lev. 20:10 en Deut. 22:22. Daarvolgens moes beide persone uitgelewer word en gedood word.
Sien die toneel voor jou oë afspeel. Hier word die vrou in groot verleentheid deur haar beskuldigers en veroordelers aangesleep en sonder gevoel voor Jesus neer gegooi asof sy ‘n sak patats is. Hulle beskuldig haar van alles wat sleg is:“Meester, hierdie vrou; sy’s onsedelik, sy’s sleg! Sy besoedel die gemeenskap met haar hoerery! Die wet van Moses veroordeel haar en gebied ons om haar met klippe dood te gooi. Maar U, wat sê U?”
(Onthou ek deel met jou oor die onderwerp: Ag Nare Dinge Wat God Nie Doen Nie.) Die mens wat tog so graag beskuldig en aankla, maar kyk na die kontras tussen die skrifgeleerdes en Fariseërs se optrede en dié van Jesus. Nêrens lees ek in die gedeelte dat Jesus haar beskuldig of veroordeel het nie. Maar in teendeel; nadat Jesus op die grond geskryf het en aan die gehoor gesê het (Joh 8:7): “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi,” en hulle almal skaam-skaam die toneel verlaat het, en net die vrou oorgebly het, het Jesus Hom opgerig en aan haar gesê (Joh. 8:11): “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”Ek maak die afleiding dat hierdie vrou moes in haar hart na God geroep het vir vergifnis en vryspraak en Jesus moes dit geweet het.
Hoor hoe heerlik klink Rom 8:1 vir elke kind van God: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”Nie nóú nie en ook nie nétnou nie. Wanneer dan? Nóóit weer nie! Kry klaar met jou verlede en geniet die hede! Geniet die: “ever deeper understanding of the love of God.”
AG NARE DINGE WAT GOD NIE DOEN NIE (4)
GOD KLAE NIE AAN NIEEk moet dikwels hoor en toeluister hoedat kinders van die Here praat sonder dat ek in ‘n posisie is om hulle te korrigeer: “Die Heilige Gees het my aangekla.”
Wel, ek is so bly dat ek kan verklaar volgens die Bybel dat die Heilige Gees jou nooit sal aankla nie.- Die Heilige Gees (God) lei die kinders van die Here in die hele waarheid (Joh. 16:13) en
- Oortuig die wêreld van sonde geregtigheid en oordeel (Joh. 16:8).
Ek weet hoe kan gevoel ‘n mens dryf die dag wanneer alles verkeerd loop en dit later voel alles is teen jou. Jy voel later soos die definisie van ‘n mislukking. Jy voel omtrent soos Dawid moes voel toe hy voortvlugtend was vir sy seun Absolom. Langs die pad kom Símeï hom te gemoed wat hom van ‘n kant af vloek en stof op skop en hom met klippe bestook. Dis toe dat Dawid dit net nie meer kon uithou nie en hy die volgende uitlating maak (2 Sam. 16:11): “Laat hom staan, dat hy vloek, want die Here het hom dit beveel.” Toe alles net vir Dawid te veel was, het hy selfs gedink die Here is teen hom – onhoudbaar!
Dit is waar dat mense jou sal beskuldig, veroordeel en selfs valslik sal aankla. Diere kan soms ook soos mense optree. Ek het as seun op die plaas gesien hoedat die opgeskote kalkoenkuikens die ou swakketjie al op die kop sal pik totdat hy later lê.Ek onthou hoedat ‘n broer in die Here toe dit met hom finansieel baie swaar gegaan het die dag teenoor my bely het: “As jy die dag lê en jy kan nie meer nie, dan kom skop hulle jou ook nog.”
Maar ek het ‘n goeie en blye boodskap om te verkondig: Wat waar is in die mense en diere wêreld, is nie waar van God nie. Prys Sy Naam! 1 Joh. 2:1 -“My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.”
Dink daaraan: As jy gesondig het; Jesus is besig om vir jou te bid en verseker nie aan te klae nie!
AG NARE DINGE WAT GOD NIE DOEN NIE (5)
GOD VERWYT NIEKen jy mense?
“Ek het jou mos gesê!”
“Het ek jou nie gesê nie!”
Mense kan verwyt en daarmee aanhou en dit invryf vir jare totdat jy dit nie meer kan uithou nie en jy voel om te skree.
Maar hoor nou hoe werk God se saak:Jak. 1:5 “... God ..., wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt,”
Mense verwyt, maar God se liefde maak dat Hy nie verwyt. Hy skelt al jou sonde kwyt! Dis ‘n feit, vir tyd en ewigheid! Jy raak daar nooit oor spyt!
GOD VERLAAT NIE‘n Man verlaat sy vrou of die vrou sal haar man verlaat in die huwelik, al het hulle trou aan mekaar voor God beloof. Kinders sal hul ouers verwerp en onder uiterste omstandighede sal ouers selfs hul rug op hul kinders draai. Maar hoor die mooi waarheid in Ps. 27:10 – “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die Here sal my aanneem.”
O halleluja!
- Almal sal jou moontlik verlaat;
- Almal kan jou begewe;
- Almal kan jou dalk in die steek laat en
- Hulle rug op jou draai.
2 Kor. 6:16 stig my gemoed wanneer ek vroegoggend in die donker uit die huis gaan om te gaan draf en bid: “Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Dis dan dat ek al hardlopende bid: “Dankie Here, U is 7 plekke ten opsigte van myself. U is voor my, agter my, links van my, regs van my, bo my, onder my en ín my!”
AG NARE DINGE WAT GOD NIE DOEN NIE (6)
GOD LOOP NIE ROND MET ONVERGEWENSGESINDHEID EN BITTERHEID NIE
Ja, mense vat stryd, neem aanstoot en loop met onvergewensgesindheid en wag vir die kans om te vergeld. So ‘n persoon was Absolom, die seun van koning Dawid. Nadat Amnon sy suster Tamar onteer het, het hy vir dae aaneen geloop en broei en uit weerwraak ‘n koelbloedige moord op sy broer Amnon beplan. Soos ‘n giftige swartmamba, soos ‘n gekweste leeu en soos ‘n tydbom wat wag om af te gaan, het hy sy tyd afgewag om toe te slaan. Elke dag het hy met homself loop en praat: ”Ek gaan jou kry, jou verkragter! Jy het mos my suster skandelik verneder!” Hy’t geloop en tob en tob en planne maak totdat die gif van bitterheid behoorlik by sy ore uitgeloop het. (2 Sam. 13)
Toe dit alles verby was, het hy weer ‘n wrok teenoor sy vader Dawid gekoester omdat laasgenoemde hom nie vriendelik genoeg terug in Jerusalem ontvang het nie. So groei sy bitterheid tot haat en haat tot weerwraak om uiteindelik ‘n groot deel van die volk van Israel van sy vader afvallig teenoor hom te maak en op te ruk om die hoofstad Jerusalem oor te neem. (2 Sam. 14, 15)Jy kry sulke mense; hulle kan nie vergewe nie. Jy kan hulle selfs met opregte berou gaan om vergifnis smeek, maar hulle weier om te vergewe. Hulle hou aan om jou te beskuldig, te veroordeel, aan te klae en te verwyt en jou oortredinge teenoor jou te hou en jou voortdurend te herinner. Maar God?
God sal doen wat ons lees in Heb. 8:12 – “Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.”
Onse Here het die liefde van 1 Kor. 13 – God se liefde is lankmoedig en vriendelik; Sy liefde is nie jaloers nie; Sy liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,
Sy liefde handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.
Dit bedek ALLES!
GEBEDHere, opnuut wil ek U prys vir volkome vergifnis en uitdelging van al my oortredinge, vergrype en dwase foute uit die verlede!!! Dankie Jesus!!! Dankie!!! Amen!
AG NARE DINGE WAT GOD NIE DOEN NIE (7)
GOD SKRYF NIE AF NIEMense skryf mense af soos wat ‘n ou verweerde meubelstuk op ‘n inventaris afgeskryf word. Ek het destyds met my fiets geval en die versekeraars het die fiets afgeskryf en gesê dis onherstelbaar beskadig. So skryf ons dikwels mense af en meen ons hulle is onverbeterbaar.
- “Hierdie man wil nie luister nie!”
- “Daardie persoon stel nie belang om sy lewe vir die Here te gee nie!“
- “Ek het nou genoeg kanse vir hierdie persoon gegee!“
- “Ek is klaar met jou!”
Ek het ook al mense in my hart afgeskryf om dan later uit te vind, God het hulle nog nie afgeskryf nie. Die Here Jesus maak hierdie verklaring (Joh. 6:37): “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”
- Joh. 6:37 (Bible in Basic English) – “I will not send away anyone who comes to me.”
- Joh. 6:37 (English Standard Version) – “whoever comes to me I will never cast out.”
GOD IS NIE ONREGVERDIG NIE
Een of ander stadium loop elke mens hom vas teen onregverdige behandeling waarteenoor ‘n mens magteloos staan. As jy dalk op die oomblik uiters gefrustreerd voel oor sulke onregverdige behandeling van mense, die staat of selfs die lewe ...
- Dis goed om te onthou: Life’s not fair, but God is good – Robert Schuller.
- Dink aan Jesus op die kruishout en doen dieselfde: 1 Pet. 2:23 – “wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel.”
GEBED
Wonderlike Hemelse Vader, ek gee alles oor in U hande. U is die God wat alleen reg en regverdig is wanneer U oordeel. Doen U wat reg is, in Jesus se Naam. Amen!
AG NARE DINGE WAT GOD NIE DOEN NIE (8)
2 Thess. 3:5 (Living Bible) – “May the Lord bring you into an ever deeper understanding of the love of God and of the patience that comes from Christ.”My eie vertaling hiervan terug in die Afrikaans: “Mag jy voortdurend groei in die bewustheid van hoe groot God se liefde regtig is. Dat dit nooit ophou, en nie uitgeput kan raak nie en dat daar geen menslike grense is aan God se liefde nie.”
Nog ‘n vertaling: “Mag jy elke dag besef dat God se liefde en die geduld van Christus groter is as wat jy die vorige dag dit in jou lugkastele bewonder of oor gedroom het.”
DIE OUMA SE LIEFDE VIR DIE KLEINKIND‘n Klompie jare gelede doen ek huisbesoek by tannie Ann Smith op Koekenaap. (Koekenaap is ‘n werklike plek naby Vredendal.) By die geleentheid wys sy my o.a. ‘n foto van een van die kleinkinders (Toe nog baie klein.). “O, kyk nou net daardie ou mooie mensie! Dis mos genoeg om enige ouma se hartsnare behoorlik te roer!”
Ek kom onder die indruk van die ouma se hartstogtelike, onverklaarbare liefde vir haar kleinkind. Toe ek daar wegry peins ek oor die gesprek en oor die liefde van die ouma en ek dink by myself:- Wat weet en verstaan die kleinkind nou van; dis nou die ouma en so werk die familie verband?
- Wat en hoeveel verstaan die babatjie van die ouma se liefde?
Toe kom die stem van die Heilige Gees tot my: Dis God se liefde vir die mens. Soos ‘n ouma se liefde vir haar kleinkind ongeag of dit nog ‘n pap klein bondeltjie is sonder dat hy haar terug lief het.
1 Joh. 4:10 – “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.”Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



